Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verenigde Nasies verklaar die aanhouding van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee is onwettig
# Suid-Afrika se verwagte saketoestande styg tot ‘n twee-jaar-hoogtepunt
# En, kanovaart: Maher en Lovemore is die paar om te klop in vanjaar se Bergrivier-marathon
# Die Verenigde Nasiese se Werkgroep oor Willekeurige Aanhouding beskou die aanhouding van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee as onwettig en eis hulle onmiddellike vrylating. Frik Potgieter en Peter Huxham word sedert Februarie verlede jaar aangehou op versinde aanklagte te midde van ‘n diplomatieke geskil oor die beslaglegging op bates van visepresident Teodore Nguema Obiang Mangue. Die families se woordvoerder, Francois Nigrini, versoek vinnige optrede om hulle vry te laat omdat hulle onskuldig is en die regte regstappe nie gevolg is nie:
# Suid-Afrika se verwagte saketoestande het tot ‘n twee-jaar-hoogtepunt gestyg, met die aanwyser vir verwagtinge in die Suid-Afrikaanse vervaardigingsbedryf wat in Junie tot 68,1 geklim het, vanaf 57,6 in Mei. Die toename weerspieël verminderde politieke onsekerheid ná die verkiesing en optimisme oor beter globale en binnelandse aanvraag. President Cyril Ramaphosa se nuwe kabinetsaanstellings, wat sakevriendelike ministers insluit, dui op pogings om ekonomiese groei ‘n hupstoot te gee. Laer globale inflasie en plaaslike brandstofprysdalings word ook gesien as positiewe faktore wat die druk op kostes sal verlig.
# Die adjunkminister van Verdediging, Bantu Holomisa, het die behoefte aan ‘n omvattende beplanningsiklus beklemtoon om uitdagings binne die Suid-Afrikaanse Weermag aan te pak. Hy het ná 28-jaar teruggekeer na die regering en sy aanstelling as betekenisvol uitgelig, nadat hy nege-jaar gedien het as adjunkvoorsitter van die Nasionale Weermagkommissie. Holomisa sê die fokus sluit die SANW se gereedheid, soldate-veiligheid, begrotingstoewysings en die uitwerking van klimaatsverandering op die sektor in:
# Kanovaart: ‘n Groep relatief jong atlete gaan hierdie week aantree met die hoop om ‘n nuwe era van oorheersing te begin in die Bergrivier-marathon in die Wes-Kaap. Die twee roeiers wat uitstaan is verlede jaar se naaswenner, Jeremy Maher, en Thomas Lovemore wat derde was. Die veteraan Hank McGregor het verlede jaar sy 13de oorwinning beklink. In die vroue-wedloop staan Stephanie von der Heyde en Bianca Beavitt ‘n baie goeie kans. Die byeenkoms begin môreoggend in die Paarl en eindig Saterdag by Velddrift.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-230-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-78-sent per vat.
# Ten slotte: Suid-Afrika se deelnemer aan Mej Supranasionaal 2024, Bryoni Govender, hoop sy word as die wenner gekroon wanneer sy die land Saterdag in die kompetisie verteenwoordig. Govender het geskitter by die voorlopige evaluering in Pole, in ‘n Juan William Aria-kunsuitrusting met 55-duisend kristalle wat per hand vasgewerk is. Die voorlopige ronde tel 40-persent van die evalueringsproses. Volgens die prokureur is sy ten volle verbind tot die bemagtiging van vroue in Suid-Afrika. Andrea Aguilera van Ecuador sal haar opvolger kroon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….