Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige burgemeester van eThekwini se bates word in beslag geneem te midde van ‘n korrupsie-ondersoek
# ‘n Ekonoom sê die nuwe regering moet sy samewerking met die privaat sektor uitbrei
# En rugby: Rassie Erasmus laai die Bokspan met Wêreldbekerwenners vir die eerste toets teen Ierland
# Die Batebeslagleggingseenheid het beslag gelê op ‘n luukse Jaguar-sportnutsvoertuig en twee eiendomme ter waarde van 25,5-miljoen-rand, wat verbind word met die voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede. Sy en 21 medebeskuldigdes word aangekla van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery vir beweerde ongerymdhede met ‘n vullisverwyderingstender van 320-miljoen-rand. Volgens die eenheid is die eiendomme waarop beslag gelê is befonds deur betalings aan El Shaddai, een van vier maatskappye wat by die tender betrokke was. Die hofsaak duur voort in die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Durban.
# ‘n Ekonoom sê die regering van nasionale eenheid moet sy samewerking met die privaat sektor versterk en uitbrei om dit te kan inspan om verspreiding te bespoedig. Professor Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool sê die sakegemeenskap sal veral betrokke wil raak by die nuwe bekleërs van die ekonomiese kern in die kabinet. Hy glo hul besluite sal invloedryk wees in die vorming van Suid-Afrika se toekomstige ekonomiese beleidsomgewing:
Die nuwe minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sal intussen na verwagting nywerheidsbeleide en groen ekonomie-projekte voorop stel. Volgens sake- en beleidspesialiste is sy aanstelling, tesame met die adjunkte Zuko Godlimpi en Andrew Whitfield, daarop gemik om ekonomiese herstel te bevorder deur sektor-ondersteuning, innoveringsbevordering en volhoubare nywerheidsontwikkeling. Business Unity South Africa het die behoefte beklemtoon aan beleide wat beleggings sal lok, produktiwiteit sal verhoog en handelsmededingendheid verbeter.
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die 2024-belastingseisoen afgeskop met die oopstel van die outomatiese aanslagportaal vir eenvoudiger belastingsake. Die woordvoerder, Siphithi Sibeko, raai belastingbetalers aan om op eFiling of die SARS MobiApp aan te meld vir aanslae. Meningsverskille kan ook daar aangemeld word deur opgawes in te dien teen 21 Oktober vir nie-voorlopige belastingbetalers. Sibeko beklemtoon die diens se verbintenis om die indieningstydperk naatloos te maak, en waarsku Suid-Afrikaners teen swendelaars:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het ‘n ervare groep met 20 Wêreldbeker-wenners aangewys vir die eerste toets teen Ierland Saterdag op Loftus. Daar is agt veranderings aan die span wat Wallis 10 dae gelede in Londen met 41-13 getroef het. Erasmus verwelkom terug kaptein Siya Kolisi, Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Handré Pollard, Marco van Staden, RG Snyman en Gerhard Steenekamp. Die stut Steenekamp, die slot Salmaan Moerat en die veelsydige agterspeler Sacha Feinberg-Mngomezulu is op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-574-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-323-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….