Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die voorgereg op vandag se sportspyskaart is rugby: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown verwag Saterdag ‘n fisiese en hewige stryd teen Ierland op Loftus Versfeld in Pretoria. Ierland het in 2016 laas in Suid-Afrika gespeel toe hulle die eerste keer ooit ʼn plaaslike toets teen die Bokke gewen het. Die wedstryd sal die Bokke se tweede toets van die seisoen wees nadat hulle Wallis op Twickenham in Londen 41-13 afgeransel het. Brown sê hulle is versigtig oor die bedreiging wat Ierland inhou:
Die Springbok nommer agt, Jasper Wiese, is intussen op pad na Japan. Die Urayusa D-Rocks het die ondertekening van die Wêreldbeker-wenner vir die volgende seisoen aangekondig. Hy het die Leicester Tigers van Engeland aan die einde van die vorige seisoen verlaat nadat hy in 2020 weg is by die Cheetahs. Die Japanse klub word deur die oud-Springbok, Johan Ackerman, afgerig. Wiese dien steeds ‘n skorsing van ses wedstryde uit vir vuilspel tydens Leicester se Premierliga-wedstryd teen Exeter Chiefs verlede maand, wat beteken hy sal nie vir die Bokke se volgende vier toetse beskikbaar wees nie.
# Vervolgens, tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, sê hy is vol vertroue dat sy knie voldoende herstel het vir sy eersteronde-wedstryd vandag op Wimbledon. Die Serwiër het ‘n operasie ondergaan vir ‘n geskeurde meniskus nadat hy hom vier weke gelede aan die kwarteindronde van die Franse Ope onttrek het. Die 37-jarige Djokovic kom in die eerste ronde teen die Tsjeg Vit Kopriva te staan onderweg na sy soeke om die rekord van agt titels te ewenaar. Djokovic sê hy het ‘n goeie oefenweek gehad:
Die gelukkige Russiese verloorder, Erika Andreeva, speel nou in die plek van Aryna Sabalenka op Wimbledon, nadat die wêreld nommer drie weens ‘n skouerbesering onttrek het. Die tweemalige Grand Slam-kampioen van Belarus het in 2021 en verlede jaar die halfeindronde op die All England Club gehaal. Sabalenka was een van die gunstelinge nadat sy vroeër vanjaar die Australiese Ope ingepalm het. Sy is gebroke oor die besluit, maar onderneem om volgende jaar sterker terug te keer.
# Ons laaste sportstorie vandag: Die nasionale armdruk-kampioenskap in die Paarl het meer as 120 deelnemers van reg oor Suid-Afrika gelok. Die geleentheid is op die Klein Parys-wynlandgoed aangebied en was die grootste in die Suid-Afrikaanse Armdruk-federasie se geskiedenis van 22 jaar. Rafeeq Joseph van Cape Viperz het die 75-kilogram-afdeling vir linkerarm-deelnemers gewen. Vroue het ook deelgeneem en Nataly Barbosa het die senior 80-kilogram-afdeling vir linkerarm-deelnemers gewen. Die geleentheid se organiseerder, Sean Christie, sê die sport is besig om baie gewild te word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….