Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die skeiding van die Energie-portefeulje word geloof vir die potensiaal om beurtkrag te beëindig
# Tshwane kan Afrika se ekonomiese spilpunt word
# En, tennis: Novak Djokovic is vol vertroue oor sy knie voor sy openingswedstryd op Wimbledon
# Die vestiging van ‘n afsonderlike ministerie vir Elektrisiteit en Energie, met minister Kgosientsho Ramokgopa en adjunkminister Samantha Graham, het positiewe reaksie ontlok. Belanghebbers is ingenome oor die vooruitsig om beurtkrag permanent te beëindig en Suid-Afrika deur die energie-oordrag te stuur. Kritici wys op die kritieke rol van die ministerie om sekerheid, bekostigbaarheid, volhoubaarheid en mededingendheid in energie te verseker. Dringende voorkeurgebiede sluit in wetswysigings, regulatoriese duidelikheid en munisipale hervorming om die verspreiding- en die transmissie-sektor te steun.
# Die uitvoerende hoof van Tshwane se Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap, Lardo Stander, glo die metro het die potensiaal om Afrika se ekonomiese spilpunt te word. Hy sê dit sal moontlik wees indien Tshwane daarin slaag om vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor te sluit om energie-onafhanklikheid te bereik. Die metro werk tans daaraan om die Pretoria-Wes- en Rooiwal-kragstasies aan die privaat sektor te verhuur en werk ook saam met onafhanklike kragverskaffers wat kenners is op die gebied van alternatiewe groen energie.
# GIWUSA het president Cyril Ramaphosa se nuut aangestelde kabinet verwerp. Die vakbond se leier, Mametlwe Sebei, het die opgeblase kabinet van 77-lede gekritiseer en dit ‘n skuif genoem wat monopolie-kapitaliste bevoordeel. Sebei beweer die kabinet sal werkers se regte en sleutel-ekonomiese sektore benadeel, en het vakbonde aangemoedig om teen die nuwe aanstellings op te staan:
# St Vincent en die Grenadine se eerste minister, Ralph Gonsalves, het die afwesigheid van ‘n politieke wil in Wes-Europa en Amerika veroordeel om die wêreldwye klimaatskrisis vas te vat. Dit volg nadat die orkaan Beryl die suidoostelike Karibiese eiland Carriacou bereik het. Gonsalves sê meer geld word benodig van lande wat groot vrystellers van kweekhuisgasse is. Amerika se Nasionale Weerdiens sê tot sewe groot orkane kan vanjaar oor die noordelike Atlantiese Oseaan voorkom teenoor die gemiddeld van drie per seisoen.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, sê hy is vol vertroue dat sy knie voldoende herstel het vir sy eersteronde-wedstryd vandag op Wimbledon. Die Serwiër het ‘n operasie ondergaan vir ‘n geskeurde meniskus nadat hy hom vier weke gelede aan die kwarteindronde van die Franse Ope onttrek het. Die 37-jarige Djokovic kom in die eerste ronde teen die Tsjeg Vit Kopriva te staan onderweg na sy soeke om die rekord van agt titels te ewenaar. Djokovic sê hy het ‘n goeie oefenweek gehad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-590-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-331-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….