Nuus 11:00
BULLETIN 2 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party se sekretaris-generaal bedank oor sy werklading
# Netanyahu sê Israel nader die einde van die uitskakeling van Hamas in Gaza
# En tennis: Djokovic is vol vertroue oor sy knie voor sy openingswedstryd op Wimbledon
# Die sekretaris-generaal van die MK-party, Arthur Zwane, het met onmiddellike ingang bedank. Zwane sê in sy bedankingsbrief hy het die afgelope twee weke besef die hoeveelheid werk in die pos is enorm en te veel vir hom, veral vanweë ander veeleisende sakebelange wat sy aandag verg. Zwane was ‘n paar maande in die amp. Hy sê hy sal egter beskikbaar wees om ‘n naatlose oorgang na die nuwe sekretaris-generaal te verseker.
# AfriForum is gereed om met die nuwe minister van Samewerkende Regering een Tradisionele Aangeleenthede, Velinkosini Hlabisa, saam te werk om swak munisipale bestuur teen te werk. Woordvoerder Petrus Coetzee vra daar moet voorkeur gegee word aan die verbetering van tussenregeringsbetrekkinge, die opgradering van water- en riool-infrastruktuur, die regulering van elektrisiteitsverspreiding, en die verbetering van finansiële bestuur. Hy vra toelaes aan munisipaliteite om verskeie projekte en bedryfsbehoeftes te ondersteun, aanspreeklikheid te verseker, asook die doeltreffende aanwending van hulpbronne:
# ActionSA in Gauteng sê dis duidelik die ANC en DA is meer geïnteresseerd in ‘n geskarrel vir posisies as oor dringende diensleweringsprobleme. Dit volg nadat premier Panyaza Lesufi se aankondiging van die kabinet gisteraand ter elfder ure uitgestel is terwyl die ANC en DA oor posisies kibbel. ActionSA se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê die voortslepende soeke na eiebelang is kommerwekkend:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê die land se Weermag sal Hamas binnekort in Gaza uitwis. Dit volg nadat die Israelse Weermag opdrag gegee het vir ʼn massa-ontruiming van Palestyne uit Khan Younis in die suide van Gaza. Die Weermag beplan volgens berigte ʼn nuwe aanslag op die gebied se tweede grootste stad. Netanyahu sê hulle sal alle gyselaars in Gaza terugbring huis toe, Hamas se militêre en regeringsvermoë vernietig en seker maak Gaza hou geen bedreiging vir Israel in nie.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, sê hy is vol vertroue dat sy knie voldoende herstel het vir sy eersteronde-wedstryd vandag op Wimbledon. Die Serwiër het ‘n operasie ondergaan vir ‘n geskeurde meniskus nadat hy hom vier weke gelede aan die kwarteindronde van die Franse Ope onttrek het. Die 37-jarige Djokovic kom in die eerste ronde teen die Tsjeg Vit Kopriva te staan onderweg na sy soeke om die rekord van agt titels te ewenaar. Djokovic sê hy het ‘n goeie oefenweek gehad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-325-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….