Nuus 09:00
BULLETIN 2 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê minister Mchunu moet duidelike rigting aan die polisie gee
# Die Save SA Civic Movement bevraagteken die plasing van ministers in die nuwe Kabinet
# En Biden veroordeel die Hooggeregshof se immuniteitsuitspraak oor Trump
# Die Instituut vir Sekerheidstudies sê die nuwe minister van Polisie, Senzo Mchunu, se ondervinding in die regering sal hom in staat stel om bewysgebaseerde beleidsrigting en nougesette toesig na die polisiediens te bring. Die minister se aanstelling volg te midde van stygende misdaadvlakke, waar die derde kwartaal se misdaadsyfers toon dat altesaam sewe-duisend-710 mense in die land vermoor is. Gareth Newham van die instituut sê Mchunu moet binne ses maande ‘n duidelike en sterk Nasionale Polisiëringsbeleid aankondig om die polisie se vertoning te verbeter.
# Die Save South Africa Civic Movement beskryf die nuwe Kabinet as die swakste in die geskiedenis van demokratiese Suid-Afrika en sê dis duidelik die ANC het toegegee aan druk van die DA. Die DA het 12 posisies in die nuwe Kabinet onder die regering van nasionale eenheid. ‘n Woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê hulle bevraagteken die plasing van ministers. Dit sluit in die verwydering van Ronald Lamola uit die vorige ministerie van Justisie en Korrektiewe Dienste, en Aaron Motsoaledi uit Binnelandse Sake:
# ActionSA in Ekurhuleni sê hy is bekommerd nadat nuwe bewerings teen die metropolisiedepartement se direkteur van spesiale dienste, Julius Mkhwanazi, aan die lig gekom het. Hy het in Oktober teruggekeer werk toe ná ʼn ondersoek dat hy sy mag misbruik en metro-voertuie vir persoonlike gebruik ingespan het, laat vaar is. ActionSA se woordvoerder, Siyanda Makhubo, sê Mkhwanazi word nou beskuldig dat hy seks in ruil vir werk gevra het by vroulike metro-beamptes wat bevorder wou word:
# Amerika se president Joe Biden het die Hooggeregshof se beslissing verwerp dat presidente, wat amptelike optrede tydens hul termyn betref, op absolute vrywaring van vervolging geregtig is. Die uitspraak kan die federale saak teen oudpresident Donald Trump oor sy pogings om die uitslag van die 2020 presidentsverkiesing om te keer, in die wiele ry. Biden beskryf die besluit as ʼn groter patroon van die Hooggeregshof om ʼn wye reeks bestaande regsbeginsels te ondermyn:
# Sokker: Portugal het na die kwarteindrondte van die Europese Kampioenskap in Duitsland deurgedring toe hy Slowenië in ‘n strafdoelstryd met 3-1 geklop het. ‘n Strafdoelpoging deur Portugal se kaptein, Christiano Renaldo, is gekeer, maar hy het goed herstel en uiteindelik die strafdoelstryd gewen, terwyl Portugal se doelwagter, Diogo Costa, al drie balle uit die hok gehou het. Portugal kom in sy kwarteindstryd Vrydag in Hamburg teen Frankryk te staan. Roemenië pak Nederland, terwyl Oostenryk met Turkye kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-095-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….