Nuus 06:00
BULLETIN 2 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel ‘n nuwe datum vas vir Zuma se tugverhoor
# Die aankondiging van die Gautengse Kabinet word weer uitgestel
# En die Amerikaanse Hooggeregshof beslis Trump mag immuniteit eis teen strafregtelike vervolging
# Die ANC se Nasionale Tugkomitee het die verhoor van die geskorste oudpresident Jacob Zuma vasgestel vir die 17de van hierdie maand. Die verhoor is voorheen in Mei uitgestel weens veiligheidskwessies nadat die komitee aangeraai is om die verhoor ná die algemene verkiesing te hou. Zuma is in Januarie uit die ANC geskors nadat hy aangekondig het dat hy vir die MK-party gaan stem en werk. Die komitee het die voormalige president aangekla van twee aanklagte van wangedrag. Die verhoor sal virtueel plaasvind.
# President Cyril Ramaphosa se nuwe kabinetsaankondiging het ‘n beduidende oplewing in Suid-Afrikaanse aandele en effekte veroorsaak en beleggers se kommer verlig. Sleutelposte is aan sakevriendelike opposisie-politici gegee, met Enoch Godongwana wat as die minister van Finansies behou is. Hierdie stap dui op ‘n voortgesette verbintenis tot omsigtige fiskale beleide. Die ekonoom, Dawie Roodt, sê effekte-opbrengste het gedaal, en alle aandele het gestyg op die Johannesburgse Aandelebeurs se indeks:
# Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum loof die aanstelling van die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om die onderwysuitdagings aan te spreek. Die uitvoerende hoof van SOS, Leon Fourie, het vertroue in haar vermoëns uitgespreek en haar agtergrond in staatsdiens en beleid as nasionale woordvoerder van Gesondheid en DA-hoofsweep beklemtoon. Hy sê SOS beklemtoon die behoefte aan skooloutonomie, onderwyser-ontwikkeling, tegnologie-integrasie, innoverende onderrigmetodes en billike hulpbronne:
# Die aankondiging van die Gautengse provinsiale Kabinet is gisteraand uitgestel nadat die ANC en die DA vasgeval het in onderhandelinge oor posisies. Die DA het saam met die ANC en ander kleiner partye gestem om die provinsiale regering van eenheid te vorm, en het verseker dat Panyaza Lesufi as premier verkies word. Die ANC se provinsiale sekretaris, TK Nciza, sê hulle sal nie toelaat dat hulle geboelie word nie:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het beslis voormalige presidente is geregtig op absolute immuniteit teen vervolging vir amptelike handelinge wat tydens hul amp geneem is, maar nie vir nie-amptelike handelinge nie. Hierdie uitspraak verwerp ‘n beslissing van ‘n Federale Appèlhof in Februarie wat bevind het voormalige president Donald Trump het geen immuniteit vir beweerde misdade tydens sy presidentskap om die 2020-verkiesingsuitslae om te keer nie. Regter Sonia Sotomayor, wat teen die meerderheidsuitspraak gestem het, het gewaarsku oor die ingrypende langtermyngevolge van hierdie besluit.
# Rugby: Die Springbok nommer agt, Jasper Wiese, is op pad na Japan. Die Urayusa D-Rocks het die ondertekening van die Wêreldbeker-wenner vir die volgende seisoen aangekondig. Hy het die Leicester Tigers van Engeland aan die einde van die vorige seisoen verlaat nadat hy weg is by die Cheetahs in 2020. Die Japanse klub word deur die oud-Springbok, Johan Ackerman, afgerig. Wiese dien steeds ‘n skorsing van ses wedstryde uit vir vuilspel tydens Leicester se Premierliga-wedstryd teen Exeter Chiefs verlede maand, wat beteken hy sal nie vir die Bokke se volgende vier toetse beskikbaar wees nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-820-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….