Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Julie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die ACDP moedig alle Suid-Afrikaners aan om steeds die nasionale span te steun in elke wedstryd wat hulle laat vorder na die volgende groot toernooi. Die Proteas het in die eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi tot die bitter einde alles in die stryd gewerp teen ‘n taai en vasberade Indiese span en uiteindelik met sewe lopies verloor. Die ACDP sê hulle het kragte gemeet met die wêreld se heel beste, en hulle briljante spangees, vasbytvermoë en dapperheid regdeur die toernooi bewys.
# Tennis: Die verdedigende manskampioen, Carlos Alcaraz, open vandag spel op die hoofbaan op die eerste dag van Wimbledon. Die Spanjaard pak die kwalifiseerder van Estland, Mark Lajal, wat 262ste op die wêreldranglys is. Alcaraz het Novak Djokovic verlede jaar geklop vir sy eerste Wimbledon-titel en het intussen die derde Grand Slam-titel van sy loopbaan op die Franse Ope ingepalm. Wêreld nommer een, Jannik Sinner, Aryna Sabalenka, Coco Gauff en Emma Raducanu is van die ander sterre wat op die eerste dag van Die Kampioenskap speel.
# Nou nuus oor die Olimpiese Spele: Die Britse sensasie, Louis Hinchliffe, het sy plek in die Paryse Spele verseker met ‘n gemaklike oorwinning in die mans 100-meter op sy land se atletiek-kampioenskap. Die 21-jarige atleet, wat deur die beroemde Amerikaner Carl Lewis afgerig word, het vroeër vanjaar getoon hy is ‘n ster met ‘n beste tyd van 9,95-sekondes. Hy het die naweek in Manchester die reën trotseer en ‘n tyd van 10,18-sekondes behaal. Hinchliffe het dié jaar twee keer deur die tien-sekonde grens gebreek, hoewel die wind hom die eerste keer gehelp het.
Die voormalige Wallabie-kaptein, Michael Hooper, het intussen sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig nadat hy nie gekies is vir die nasionale sewes-span vir die Spele nie. Die 32-jarige Hooper is een van die mees bekroonde spelers in Australië se geskiedenis en het die manne in goud 69 keer aangevoer. Dit is meer kere as enige ander speler. Hy het in 2012 as 20-jarige sy eerste toets teen Skotland gespeel. Hooper sê sy ongelooflike reis is gevul met onvergeetlike ervarings, uitdagings en herinneringe.
# En, om mee af te sluit, sokker: Engeland en Spanje is deur na die kwarteindronde van die Europese Kampioenskap in Duitsland. Jude Bellingham en Harry Kane se doele het Engeland ʼn oorwinning van 2-1 in bykomende tyd oor Slowakye besorg. Gareth Southgate se span kom Saterdag in die kwarteindstryd teen Switserland te staan. Intussen het Spanje Georgië 4-1 afgeransel en hul kragmeting met die gasheerland bespreek. Southgate het Engeland se geestesgesteldheid geloof:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….