Nuus 11:00
BULLETIN 1 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid maak voorsiening vir groter bestendigheid
# Tennis: Groot sterre speel vandag op die eerste dag van Wimbledon
# En die Suid-Afrikaners Tyla en Makhadzi wen Billboard-toekennings
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid verskaf ‘n stewige basis vir groter bestendigheid, samehang en ʼn fokus op instelling. Die president het gisteraand ʼn hersaamgestelde kabinet bekendgemaak met die DA wat ses ministers- en ses adjunkministers-posisies gekry het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die nuwe regering sal voorkeur gee aan vinnige, inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei en ʼn meer regverdige samelewing deur aandag te gee aan armoede en ongelykheid.
Die EFF sê intussen die nuwe kabinet bevestig sy bestaande standpunt dat die regering van nasionale eenheid niks anders is as ‘n rookskerm vir die ANC se voorafbepaalde koalisie met die DA nie. Die EFF se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê deur ministersposte aan die DA toe te ken, het die ANC die kompromieë oortref wat hy in 1994 aangegaan het:
Build One South Africa sê op sy beurt die nuwe kabinet bevestig ‘n nasionale koalisie tussen die ANC en die DA en nie ‘n regering van nasionale eenheid nie. Die kabinet het van 30 tot 32 ministers vergroot, met 43 adjunk-ministers. BOSA se waarnemende woordvoerder, Roger Solomons, vra dat die voordele vir die uitvoerende gesag ingekort word, insluitend gratis behuising, blouligbrigades, sekerheidsmaatreëls vir belangrike persone en luukse motors van miljoene rand:
# Tennis: Die verdedigende manskampioen, Carlos Alcaraz, open vandag spel op die hoofbaan op die eerste dag van Wimbledon. Die Spanjaard pak die kwalifiseerder van Estland, Mark Lajal, wat 262ste op die wêreldranglys is. Alcaraz het Novak Djokovic verlede jaar geklop vir sy eerste Wimbledon-titel en het intussen die derde Grand Slam-titel van sy loopbaan op die Franse Ope ingepalm. Wêreld nommer een, Jannik Sinner, Aryna Sabalenka, Coco Gauff en Emma Raducanu is van die ander sterre wat op die eerste dag van Die Kampioenskap speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-288-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-89-sent per vat.
# En ten slotte: Die musikant Tyla maak Suid-Afrika steeds trots op die wêreldverhoog nadat sy twee Billboard-toekennings in Los Angeles opgeraap het. Sy het weggestap met die toekennings vir beste nuwe kunstenaar en beste internasionale kunstenaar. Sy is slegs die derde wenner van die kategorie vir beste nuwe kunstenaar wat nie in Amerika gebore is nie. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Makhadzi, het die kykerskeuse vir beste internasionale vertoning gewen. Tyla het in haar aanvaardingstoespraak hulde gebring aan die Afrika-sterre wat die weg vir haar gebaan het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….