Nuus 08:00
BULLETIN 1 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê hy is gereed om sy plek in die nuwe Kabinet in te neem
# Die VF Plus sê die kabinetsposisie is ‘n geleentheid om die land te herbou
# En Rise Mzansi is teleurgesteld oor ‘n vergrote Kabinet
# Die DA sê hy is trots om vir die eerste keer sy plek in die nasionale regering in te neem. Die party het ses ministeries en ses adjunkministers in die nuwe Kabinet. Dit sluit die leier, John Steenhuisen, in as minister van Landbou, Siviwe Gwarube as minister van Basiese Onderwys en Leon Schreiber as minister van Binnelandse Sake. Steenhuisen sê hulle is gereed om hul prestasies van uitstekende regering, geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie en pragmatiese beleidmaking voort te sit:
Die Vryheidsfront Plus sê intussen hy is daartoe verbind om sy rol in die regering van nasionale eenheid te vervul om stabiliteit en vordering in die land te bevorder. Die leier, Pieter Groenewald, is die nuwe minister van Korrektiewe Dienste. Die party sê die nuwe kabinetspos gee erkenning aan die rol wat hy die afgelope 30 jaar in Suid-Afrika gespeel het. Groenewald sê die VF Plus se deelname aan die uitvoerende gesag sal verseker dat die regte beleid ingestel word om gelyke geleenthede vir almal in die land te skep.
RISE Mzansi het op sy beurt die aankondiging van die nuwe Kabinet verwelkom, maar is teleurgesteld omdat die nasionale uitvoerende gesag vergroot is. Die Kabinet het nou 32 in plaas van 30 ministers en 43 adjunkministers. Die party, wat deel is van die regering van nasionale eenheid, het geen poste geëis nie en is niks aangebied nie. Mabine Seabe van RISE Mzansi sê sy ondersteuning aan die regering van nasionale eenheid hang af van die onwrikbare en basiese beginsels, soos om die Grondwet te onderhou:
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky het nog langafstandwapens aangevra en sê sy land moet die getal gevorderde lugafweerstelsels vermeerder. Dit volg nadat sewe mense, insluitend kinders, dood en minstens 31 beseer is in ‘n Russiese missielaanval op die dorp Vilniansk in Oekraïne se suidelike Zaporizhzhia-streek. Zelensky sê Rusland het die afgelope week meer as 800 sweefbomme op Oekraïense teikens afgevuur. Hy sê hoe gouer die wêreld sy land help in die stryd teen Rusland, hoe gouer sal daar vrede wees.
# Sokker: Engeland en Spanje is deur na die kwarteindronde van die Europese Kampioenskap in Duitsland. In die laaste 16 het Jude Bellingham en Harry Kane se doele Engeland ʼn twee-een-sege in ekstra tyd oor Slowakye besorg. Gareth Southgate se span kom Saterdag in die kwarteindstryd teen Switserland te staan. Intussen het Spanje met vier-een die span van Georgië afgeransel en hul kragmeting teen die gashere van Duitsland bespreek. Southgate het die span se geestesgesteldheid geloof:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-343-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….