Nuus 11:00
BULLETIN 30 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dele van Johannesburg ervaar ‘n aardskudding
# ‘n Kruisboog-aanvaller doodgeskiet na hy Israelse ambassade-wag in Serwië wond
# En, krieket: Die regering prys die Proteas se prestasie by die T20 Wêreldbeker [KLANK]
# Johannesburg se Noodbestuursdienste sê sommige inwoners het gisteraand ‘n aardskudding op ‘n beraamde skaal van drie beleef. ‘n Woordvoerder, Robert Mulaudzi, sê die skudding is in verskeie gebiede gevoel, insluitend Soweto, Roodepoort, Naturena en Kiblerpark:
# Die kommissaris van die Grensbestuurs-owerheid, Michael Masiapato, sê hulle het ‘n onverbiddellike benadering tot misdadige bedrywighede by die land se grensposte. Die owerheid se woordvoerder, Memme Mogotsi, sê vyf Lesotho burgers, insluitend vier wat voorheen verbied is om die land binne te kom, is in besit van versteekte kontant van 1,48-miljoen-rand by Kwaggasnek tussen Suid-Afrika en Lesotho gearresteer:
# ‘n Polisiebeampte het ‘n operasie ondergaan na ‘n kruisboog-aanval buite die Israelse ambassade in die Serwiese hoofstad Belgrado. Die beampte, wat met ‘n pyl in die nek gewond is, het die aanvaller doodgeskiet. Die Serwiese aanvaller is as die 25-jarige Miloš Žujović uitgeken. Die Serwiese ministerie van Binnelandse Sake sê nog ‘n persoon is gearresteer en die polisie ondersoek ‘n moontlike netwerk wat bande met buitelandse terroristegroepe het. Die Israeliese ministerie van Buitelandse Sake sê die ambassade is na die aanval gesluit.
# Krieket: Die regering het die Proteas se sportmanskap en prestasie in die T20-Wêreldbeker-eindstryd gisteraand teen Indië in Barbados geprys. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê hoewel Indië gewen het, het Suid-Afrika hulle man gestaan. Sy voeg by sport was nog altyd ‘n krag wat die land verenig, grense oorskry en kameraderie onder burgers bevorder:
# En ten slotte: ‘n Groep vlieggeesdriftiges wat gehoop het om die eerste vlug oor die Atlantiese Oseaan in ‘n oop waterstof-gevulde lugballon te onderneem, sê hulle is uiters teleurgesteld na hulle poging laat vaar moes word. Die BBC berig die 67-jarige Britse ontdekker, David Hempleman-Adams, en twee vriende het die naweek van die Presque-eiland in Maine in Noord-Amerika opgestyg. Maar na sowat sewe uur in die lug is hulle gedwing om naby New Brunswick, Kanada, weens swak weer te land. Die avonturiers is vasbeslote om later weer te probeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….