Nuus 13:00
BULLETIN 29 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA en die ANC bespreek die volgende stappe vir ‘n regering van nasionale eenheid
# Die Universiteit van Wes-Kaap kondig die onmiddellike verbreking van bande met Israeliese instellings aan
# En, krieket: Koorsige opwinding vir die Proteas se T20-Wêreldbeker-eindstryd teen Indië
# ‘n Afvaardiging van Build One South Africa, insluitend die leier Mmusi Maimane, het ANC-leiers ontmoet om ‘n koalisie op nasionale vlak te bespreek. BOSA se waarnemende woordvoerder, Roger Solomon, sê dit het ‘n duideliker begrip gegee oor indien, en hoe, BOSA moontlik kan deelneem. Solomons sê die instelling van ‘n verklaring van voorneme is noodsaaklik vir enige nuwe regering:
# Die Universiteit van die Wes-Kaap het sy verbintenis tot solidariteit met die mense van Palestina herbevestig met ‘n beslissende mosie wat die universiteitsraad, die senaat, die konvokasie en die studenteraad onderskryf het. UWK se woordvoerder, Gasant Abarder, sê die mosie bevestig hulle onwrikbare steun vir geregtigheid, menseregte en die heropbou van die Palestynse hoër onderwys-instellings. Abarder sê die universiteit verbreek sy bande met Israeliese akademiese instellings ten volle:
# Die Oos-Kaapse polisiebestuur het die moord op ‘n konstabel aan diens in Mount Fletcher veroordeel. ‘n Polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê twee beamptes was in die Mjamba-gebied aan diens toe hulle Donderdag deur vyf mans in ‘n bakkie in ‘n lokval gelei is. Die aanvallers het op die polisiebeamptes geskiet en een van hulle is in die bolyf gewond:
# Amerika se hoogste hof het beslis federale aanklaers het hulle magte oorskry deur ‘n obstruksiewet te gebruik om honderde betogers van die Republikeinse party se destydse 6 Januarie-betogings aan te kla. Die beslissing kan die saak teen die voormalige president Donald Trump raak. Die regters sê die aanklagte moet bewyse insluit dat die betogers probeer het om met dokumente te peuter of dit te vernietig. Volgens die BBC is meer as 350 mense aangekla dat hulle ingemeng het by die Kongres se werksaamhede – die sertifisering van die 2020 presidensiële verkiesing.
# En, krieket: Aanhangers het nog net ‘n paar uur se wag oor voor die eerste bal van die T20-Wêreldbeker-eindstryd tussen die Proteas en Indië in Barbados. Dit is Suid-Afirka se eerste wedstryd in Bridgetown. Dié wat weet sê hoewel dit nie ‘n kolwersparadys is nie, het die kolfblad by die Kensington-veld van die hoogste tellings van die toernooi opgelewer. Snelboulers het glo in dié stadium ‘n effense voorsprong oor draaibalboulers daar. Die wedstryd word beskou as ‘n stryd tussen die twee beste spanne in die Wêreldbeker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….