Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa kondig die goedkeuring aan van 2024/2025-elektrisiteitstariewe
# ‘n Beweging kritiseer die huidige RNE-onderhandelings as ‘n mors van tyd
# En, krieket: Die Proteas Vroue kry ‘n kolf-meesterklas by Indië
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het die goedkeuring afgehandel van die tariewe van 178 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders vir die finansiële jaar 2024/2025. Hierdie tariewe raak munisipale en privaat verspreiders en word op die eerste van aanstaande maand van krag. Die woordvoerder van Nersa, Charles Hlibela, sê verspreiders het tariewe voorgelê wat gebaseer is op voorsieningskostestudies of volledige koste-uiteensettings, wat deursigtige en gereguleerde pryse regoor die land verseker:
# Die Save South Africa Civic Movement het die huidige regering van nasionale eenheid-onderhandelings gekritiseer as ‘n mors van tyd, wat hoofsaaklik diegene wat meeding om ministeriële posisies bevoordeel, eerder as om die burgers te dien. Die groep beweer die president het die grondwetlike gesag om ministers aan te stel en versoek RNE-lede om nasionale belange voorop te stel. Die beweging se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, het partye soos die EFF en MK geprys oor hul verwerping van die onderhandelingsproses:
# Suid-Afrikaanse mynbouleiers bepleit ‘n stroombelynde “eenstop-toonbank” om aansoekprosesse te vereenvoudig, doeltreffendheid te verbeter en beleggings te lok. Die uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika, Mzila Mthenjane, benadruk die noodsaaklikheid van mynbou om ekonomiese groei te dryf met inagneming van wetgewende prosesse in die verlede, en om die prominensie van die sektor te bevorder. Ten spyte van uitdagings soos stadige goedkeuring en tekortkominge met infrastruktuur, verwys hy tog na huidige pogings om die vertoning van die bedryf te verbeter en regulatoriese hervormings om die bedryf te laat herleef.
# Die Globale teen-geldwassery-waghond, die Finansiële Aksie-taakmag, het Monaco op die gryslys gevoeg van lande wat onderhewig is aan verskerpte monitering. Suid-Afrika is ook op hierdie lys. Dit het ook op ‘n vol sitting in Singapoer vir Venezuela op die lys gevoeg van lande met strategiese tekortkominge om teen geldwassery en terrorismefinansiers op te tree, maar wel met die taakmag saamwerk om die probleme reg te stel. Jamaika en Turkye is van die lys verwyder. Die taakmag het ook ‘n swartlys van lande wat as hoёrisiko-jurisdiksies beskou word.
# Krieket: Dit was ‘n aaklige eerste dag vir die Proteas Vroue in hulle eenmalige toets teen Indië in Chennai. Die gasvroue het die loot gewen en besluit om te kolf. Die eerste paaltjie het eers in die 52ste beurt gekantel met Indië op 292 toe Smriti Mandhana vir 149 lopies uitgehaal is. Haar aanvangsvennoot, Shafali Verma, het voortgekolf en 205 van slegs 197 aflewerings aangeteken. Teen uitskeityd was die tuisspan op 525 vir vier – ‘n gemiddeld van meer as vyf lopies per boulbeurt vir die dag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-457-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….