Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Verslag bevind verbruikers offer noodsaaklikhede soos krag en kos op weens die ernstige lewenskostekrisis
# Die laboratoriumdiens verwag middel Julie bestendigheid van die Inligtingstegnologie-stelsel ná ‘n kuberaanval
# En, rugby: Die Bokke dink net ‘Ierland’ terwyl toetsweek nader
# Suid-Afrikaanse verbruikers offer noodsaaklikhede soos elektrisiteit en kos op te midde van ‘n ernstige lewenskostekrisis. Daar is 46-persent van mense wat nie elke maand basiese benodigdhede kan bekostig nie en ‘n geraamde huishoudelike skuld-tot-inkomste-verhouding van 65-persent vir 2024, veroorsaak ‘n somber situasie. Volgens Debt Rescue se jongste opname, het talle mense na gas en sonkrag oorgeskakel, terwyl 40-persent bykomende werk doen. Stygende werkloosheid en toenemende skuld beklemtoon ‘n finansiële landskap wat onseker is en vererger word weens die onlangse ekonomiese uitdagings.
# Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens sê hy werk daaraan om sy Inligtingstegnologie-stelsel en infrastruktuur te herstel ná ‘n kuberaanval. Die uitvoerende hoof, Koleka Mlisana, het bevestig die kuberaanval het datasentrums en die webwerf geraak. Mlisana het aan Newzroom Afrika gesê diagnostiese dienste aan openbare hospitale gaan voort ten spyte van uitdagings. Sy het beklemtoon ingeboude veiligheidsmaatreëls word ingestel om toekomstige aanvalle te voorkom en verwag dit sal teen middel Julie bestendig wees:
# Die DA in die Oos-Kaap vra die provinsiale wetgewer om die voorgestelde verskuiwing van die Hooggeregshof se hoofsetel van Makhanda na Bisho te debatteer. Dit volg na aanbevelings deur die komitee oor die rasionalisering van gebiede onder jurisdiksie van die afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika en regterlike instellings. Vicky Knoetze van die DA sê na raming kan tien-duisend mense hulle werk verloor:
# Die politieke rolspelers in Frankryk doen vandag vir oulaas ‘n oproep om stemme in ‘n maak-of-breek-verkiesing waartydens die verregses die eerste keer in die geskiedenis beheer kan oorneem. Die tydperk vir veldtogte eindig om middernag met môre ‘n blaaskans waartydens geen politieke bedrywighede mag plaasvind nie voor stemdag Sondag. Nog ‘n week van veldtogte volg dan voor die beslissende tweede ronde op 7 Julie. Die verregse National Rally sal na verwagting die verkiesing wen en kan dus moontlik die eerste keer in die geskiedenis die pos van eerste minister beklee.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus en sy span het hulle oefenkamp vandag afgehandel en dink net ‘Ierland’ in aanloop tot die openingtoets teen hulle aartsvyand aanstaande Saterdag op Loftus Versfeld. Erasmus is tevrede met die nuwe strukture terwyl die groep gereed maak om aanstaande week net op die toets te fokus. Hulle keer die naweek huis toe om tyd by hulle gesinne deur te bring en kom weer Sondag in Pretoria byeen. Erasmus sal Dinsdag sy wedstrydgroep vir die Ierland-toets aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-689-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-334-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….