Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir ‘n gesamentlike parlementsitting op Nelson Mandela-dag
# Die Activists and Citizens Forum sê die sogenaamde regering van nasionale eenheid is verraad teen die kiesers
# En, fietsry: Owerhede ondersoek die Vingegaard-span se ‘beheerkamer’ tydens Tour de France
# President Cyril Ramaphosa het gevra dat ‘n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies gehou word vir die Parlementsopening op 18 Julie 2024. Die sitting wat saamval met Internasionale Nelson Mandela-dag, sal die president kans gee om die sewende administrasie se prioriteite uiteen te sit. Woordvoerder Vincent Magwenya sê die geleentheid wil Mandela se nalatenskap eer:
# Die Activists and Citizens Forum sê politieke partye moet ophou om die leuen te versprei dat die land hulle versoek het om almal saam te werk. Die woordvoerder van die Forum, Dennis Bloem, sê politieke partye het op 29 Mei kiesers oortuig om vir hulle onderskeie politieke partye te stem. Volgens Bloem het die kiesers op geen stadium ingestem tot ‘n regering van nasionale eenheid nie:
# Eskom in Gauteng het 267 huise in ʼn informele nedersetting in Kromdraai, in die Mogale City plaaslike munisipaliteit, van elektrisiteit voorsien. Eskom se woordvoerder, Amanda Qithi, sê die projek is ʼn groot mylpaal in sy voortgesette pogings om Suid-Afrikaners in die Gauteng-provinsie se lewensgehalte te verbeter deur betroubare en veilige elektrisiteit te voorsien:
# Aktiviste teen klimaatsverandering het hulle in Pretoria by die wêreldwye betogings deur die StopEACOP-koalisie aangesluit teen die ruolie-pypleiding in Oos-Afrika. Die projek deur TotalEnergies en die Chinese oliekorporasie wat oliebronne in die see ontgin, word beskuldig van menseregtevergrype en die vernietiging van die biodiversiteit naby die Murchison-valle Nasionale Park in Uganda. Betogers eis ‘n hersiening van China se betrokkenheid en sê dit kan ‘n koolstofspoor van 375-miljoen metrieke ton laat en duisende mense ontwortel.
# Fietsry: Die Internasionale Fietsryfederasie ondersoek die voorgestelde gebruik van ‘n ‘beheerkamer’ deur die span van die verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard, tydens die Tour de France. Die kamer stel spaneienaars, Visma-Lease-a-bike, vanjaar in staat om data intyds te verwerk. Die fietsryfederasie is tans besig met verifiëring om te verseker die opset voldoen aan die regulatoriese raamwerk. Volgens die Nederlandse span sal die kamer die afrigters in die motor ondersteun en in staat stel om die bes moontlike taktiese besluite vinniger te neem. Die toer begin Saterdag in Florence.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-273-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….