Nuus 06:00
BULLETIN 28 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Gayton McKenzie beskryf Ramaphosa se brief as ‘n beleefde maar ferm verwerping van die DA se planne
# Volgens die jongste data van Statistieke SA doen minder sakeondernemings aansoek om likwidasie
# En dis Indië teen Suid-Afrika in die T20-eindstryd
# Patriotic Alliance-leier, Gayton McKenzie, sê die DA het die ANC te ver gedryf. President Cyril Ramaphosa het ‘n brief aan DA-leier, John Steenhuisen, gestuur waarin hy die DA kritiseer omdat hy die regering van nasionale eenheid se onderhandelings in gevaar stel. Ramaphosa het die DA daarvan beskuldig dat hy die doelpale verskuif het deur meer kabinetsposte te eis. Ramaphosa het aanvanklik ses kabinetsposte aangebied, insluitend Handel en Nywerheid, en toe daardie portefeulje teruggetrek en een aangebied wat beskou word as minder belangrik. Die DA sê agt kabinetsposte sal proporsioneel aan sy steun in die verkiesing wees.
AgriSA sê intussen beleidsekerheid en meer beleggings is noodsaaklik om die landbousektor in Suid-Afrika te laat groei. Volgens die organisasie is bestendigheid in ekonomiese beleid, sekerheid oor eiendomsreg en ‘n ondersteunende regsraamwerk noodsaaklik om beleggings te lok. Die organisasie doen ‘n beroep op die sewende administrasie om bio-sekuriteit te bevorder, landbou-uitvoere deur gunstige handelsooreenkomste uit te brei en infrastruktuur soos water, paaie en energie te verbeter. AgriSA sê doeltreffende samewerking tussen die regering en die privaatsektor is noodsaaklik om landelike gemeenskapsontwikkeling te takel en voedselsekerheid te vestig.
# Volgens die jongste data van Statistieke Suid-Afrika, doen aansienlik minder ondernemings aansoek om te sluit. Verlede maand het 125 ondernemings hulle deure gesluit, ‘n daling van 17,2-persent teenoor die vorige jaar. Die totale aantal likwidasies vir die vyf maande is 638, ‘n daling van 9,3-persent teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Die opnamestatistikus van Statistieke SA, Onica Mushwana, glo dit dui op ‘n effense verbetering met die oorlewing van ondernemings in die huidige stram ekonomiese toestande:
# City Power het ‘n nuwe kliënteportaal en KI-aangedrewe kletsbot, Joulene, bekendgestel wat daarop gemik is om kliëntediens te verbeter. Die 24/7-portaal bied kliënte onmiddellike toegang tot geskiedkundige data, kliënte-navrae, meter-alarms, onderbrekingsopdaterings, kragonderbrekings, rekeningsimulasies en diensnavrae. Die woordvoerder, Isaac Mangena, sê dit dui op City Power se verbintenis tot digitale transformasie en verbeterde interaksie:
# Die Zimbabwiese-geldeenheid het internasionale erkenning ontvang. Die Zimbabwiese Reserwebank het aangekondig die Wêreldbank het die ZiG internasionale geldeenheidkode gesertifiseer wat dit sy eie duidelike identiteit gee. ZiG is ‘n afkorting vir Zimbabwe Gold. Sowat 1,4-miljard-rand se ZiG is tans in sirkulasie en dit word gerugsteun deur edelmetale en buitelandse valuta ter waarde van sowat 5,5-miljard-rand. Die ZiG vervang die Zimbabwiese dollar en sal na verwagting pryse stabiliseer, die ekonomie ‘n hupstoot gee en markvertroue bou.
# Krieket: Indië het sy plek in die T20-wêreldbeker-eindstryd teen Suid-Afrika verseker toe hy Engeland in Georgetown, Guyana, met 68 lopies verpletter het. Die eindstryd vind Saterdag in Barbados plaas. Indië se kaptein, Rohit Sharma, het sy span tot ʼn hoogs mededingende totaal van 171 vir sewe gelei nadat hulle gevra is om eerste te kolf. Engeland se lyding was vinnig verby en hulle was ná 16 boulbeurte en vier balle almal uit vir slegs 103.
Suid-Afrika het Afghanistan Donderdagoggend in die eerste halfeindstryd met nege paaltjies afgeransel. Die Proteas het Afghanistan vir net 56 uitgeboul in 11 boulbeurte en vyf balle, en 60 vir een bereik in agt boulbeurte en vyf balle. Die eindstryd begin Saterdagoggend halfvyf Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-422-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….