Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA waarsku Ramaphosa om by die kabinetsooreenkoms te hou of dit gaan ineenstort
# Ramaphosa betreur twee SANW-ongevalle in ‘n DRK-mortieraanval
# En, krieket: Tabraiz Shamsi is opgewonde oor die heel eerste T20 Wêreldbeker-eindstryd
# Die DA het ‘n ultimatum aan president Cyril Ramaphosa gestel en eis hy moet hom by die oorspronklike kabinetsaanbod hou of die gevaar loop dat hulle ooreenkoms ineen kan stort. Volgens News24 het Ramaphosa sy aanvanklike aanbod verander en die sleutelportefeulje van Handel, Nywerheid en Mededinging met Toerisme vervang, wat die DA woedend gemaak het. Die party dring aan op die oorspronklike voorwaardes en waarsku hulle sal geen verdere toegewings maak nie. Hulle hou vol hul aanvaarding was finaal en die party sal nie heronderhandel nie.
.
# President Cyril Ramaphosa betreur die dood van twee soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die beserings aan 20 ander tydens ‘n mortieraanval in Sake, in die Demokratiese Republiek die Kongo. Woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa is verootmoedig deur hulle opofferings ter wille van vrede en stabiliteit in die streek. Die soldate is deel van die Sadek-sending in die DRK wat in Desember 2023 ontplooi is om te help met die verhoogde konflikte en onstabiliteit:
# Die DA in Gauteng beweer meer as 90-duisend mense staar werkloosheid in die gesig weens die ineenstorting van die premier, Panyaza Lesufi, se Nasi iSpani-program. Hulle beweer die program, wat daarop gemik was om korttermynwerk te verskaf, het misluk weens swak beplanning en ‘n gebrek aan befondsing. Betrokke departemente het briewe uitgereik wat die einde van kontrakte en vertragings in toelaebetalings aandui. Die DA-lid, Solly Msimanga, bepleit ‘n werkskeppingstrategie wat privaatsektor-betrokkenheid vir langtermyn-werksoplossings bevorder.
# Die Stad Kaapstad vra inwoners om verkiesingsplakkate aan te meld wat hulle in hulle buurte of op ritte deur Kaapstad opmerk. Die woordvoerder van die stad, Luthando Tyhalibongo sê hulle het die afgelope week plakkate regoor Kaapstad verwyder, maar hulle toegespits op die hoofpaaie en natuurskoon-roetes:
# Krieket: Die draaibouler van die Proteas, Tabraiz Shamsi, sê die span sien uit na hulle eerste Wêreldbeker-eindstryd Saterdag. Suid-Afrika het Afghanistan in ‘n oorheersende vertoning vir net 56 lopies uitgehaal vir ‘n oortuigende oorwinning met nege paaltjies in die eerste T20 Wêreldbeker-halfeindstryd in Trinidad. Shamsi het drie paaltjies vir net ses lopies laat kantel en sê die span sal gereed wees om teen die wenner van vandag se halfeindstryd tussen Indië en Engeland te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-356-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-319-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….