Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt is krieket: Die Proteas is vir die eerste keer ooit deur na die T20-wêreldbeker-eindstryd nadat hulle Afghanistan met nege paaltjies verslaan het. Afghanistan het die loot gewen by die Brian Lara-stadion in Tarouba, Trinidad, en besluit om eerste te kolf. Hulle was egter na 11 boulbeurte en vyf balle op 56 almal uit. Dis die laagste telling in ʼn T20-wêreldbeker-halfeindronde en ook die laagste teen Suid-Afrika. Die Proteas het geantwoord met 60 lopies vir die verlies van een paaltjie na agt boulbeurte. Die tweede halfeindwedstryd tussen Indië en Engeland vind vanmiddag plaas en die eindwedstryd Saterdag.
# En nou rugby: Die tweemalige Wêreldbeker-kaptein van die Springbokke, Siya Kolisi, behou die kapteinskap wanneer die wêreldkampioene aanstaande Saterdag in Pretoria tot die veld terugkeer teen Ierland. Springbok-afrigter Rassie Erasmus bevestig Kolisi sal die span weer aanvoer wat ‘n einde bring aan bespiegeling dat hy vervang kan word deur ‘n Bok-kaptein wat plaaslik speel. Cheslin Kolbe is fiks verklaar en Edwill van der Merwe, Faf de Klerk en Makazole Mapimpi behoort ook voor die eerste toets teen Ierland van beserings te herstel. Die Bokke het Ierland nog nie sedert 2016 geklop nie.
# Vervolgens, sokker: Georgië het ‘n geskiedkundige plek oopgespeel in die uitspeelrondes van Euro 2024 na gister se verstommende twee-nul oorwinning oor Portugal. Turkye, België, Romenië en Slowakye het ook deurgedring na die laaste 16. Turkye speel Dinsdag teen Oostenryk in die laaste 16 in Leipzig, terwyl die 2016-kampioen Portugal na Frankfurt reis vir Maandag se wedstryd teen Slowenië. Vroeër is die oorloggeteisterde Oekraïne se harte gebreek in ‘n dramatiese einde in Groep E, toe hulle uitgeskakel is hoewel hulle vier punte ingesamel het. Romenië speel in die laaste 16 teen Nederland.
# Fietsry: Die tweemalige Tour de France-wenner, Tadej Pogačar, [Ta-dei Po-gha-char] het sy teenstanders gewaarsku dat hy nog nooit so goed gevoel het nie. Die Sloween hoop om die eerste fietsryer sedert die legendariese Marco Pantani te word wat die Giro d’Italia en die Tour de France in dieselfde seisoen wen. Pantani het dit in 1998 reggekry. Die toer begin Saterdag in Florence en Pogačar hoop om nog ‘n oorwinning by sy 2020 en 2021 toer-seges te voeg. Die 25-jarige was die afgelope twee jaar naaswenner terwyl die Deense fietsryer, Jonas Vingegaard, met die louere weggestap het.
# Ons sluit af met nog krieketnuus: Sri Lanka se hoofafrigter Chris Silverwood het bedank vir meer tyd saam met sy familie. Die 49-jarige Engelsman het in 2022 by Sri Lanka aangesluit en hulle gelei na die AsiatieseTwintig20-titel, en die volgende jaar die 50-beurte Asiatiese Bekertitel. Maar hulle het verlede jaar teleurgestel in die 50-beurte Wêreldbeker en kon ook die deurdring na die Super Agt-stadium van die T20 Wêreldbeker nie. Die voormalige kaptein van Sri Lanka Mahela Jayawardene het vroeër as konsultant bedank na die land se uittog uit die Wêreldbeker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….