Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa en die DA staan op die punt om ‘n ooreenkoms te bereik oor die samestelling van die Kabinet, wat die weg baan vir die regering van nasionale eenheid om teen die einde van die week ingestel te word.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig oor die 18 jaar vonnis vir Lauren Dickason vir die moord op haar drie kinders in Nieu-Seeland. Die koerant skryf haar man, Graham het haar vergewe.
Dan skryf die koerant oor die inwoners van Randburg wat raadop is omdat hulle opnuut sonder water moet klaarkom.
En laastens word berig die finansiële hoof van Steinhoff, Ben la Grange is op borgtog van 150-duisend-rand vrygelaat. Hy het ook nou, nadat hy die ondersoekspan vir vyf jaar bygestaan het, verneem hy is nie meer nodig as staatsgetuie nie en gaan aangekla word.
# The Star en Pretoria News:
Berig ook oor Steinhoff se voormalige finansiële hoof wat op borgtog vrygelaat is.
En skryf ook oor die vonnis wat Lauren Dickason ontvang het.
# Sowetan:
Berig oor die moord op ‘n 40-jarige vrou wat gisteroggend by ‘n bushalte in Roodepoort doodgeskiet is. Haar eggenoot het aan die koerant gesê sy het geen vyande gehad nie.
# En The Citizen:
Skryf oor die plan om radio-aktiewe materiaal in renosterhorings te plant om stroping te voorkom.
En berig Siya Kolisi sal aanbly as Springbok-kaptein .
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Lei ook met Dickason se vonnis en skryf oor La Grange van Steinhoff.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Beeld en Volksblad met Dickason.
Dan word berig die inwoners van Paradisepark buite Hermanus het versekering van die Menseregtekommissie ontvang dat hulle nie nou uitgesit gaan word nie. Daar moet eers met die eienaar van die grond vergader word.
En laastens is daar nuus oor Kevin die reuse- Deense hond van die VSA wat slegs twee weke nadat hy in die Guiness Wêreldrekordboek opgeneem is, tydens ‘n operasie dood is.
# En Cape Times:
Skryf oor ActionSA se besluit om as opposisieparty aan te bly, berig oor 33 jong mans wat by ‘n bedrieglike inlywingskool gered is en skryf ook oor die finansiële hoof van Steinhoff wat op borgtog vrygelaat is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig DA- en ANC-raadslede in die Nelson Mandelabaai-metro is omgekrap oor die onvoldoende voorsiening van fondse vir wyke.
En tweedens skryf die koerant die eks-kêrel van die ontvoerde biokinetikus van Gqeberha, Riana Pretorius, moes moeilike vrae onder kruisverhoor beantwoord.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die afwesigheid van Indiërs in die Kabinet van KwaZulu-Natal is bevraagteken en kan volgens kenners lei tot groter probleme in die toekoms.
# En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig Suid-Afrika het ‘n reuse-agterstand met betrekking tot 5G-installasies en skryf ook oor Siya Kolisi.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die mynmaatskappy Headspring Investment sê besluite oor die uraanmyn in Stampriet sal geneem word op grond van wetenskaplike feite en nie irrasionele vrese en ongegronde gerugte nie.
Tweedens skryf die koerant die Hoër Hof het beslis dokter Martin Wucher is nie gemagting om namens die Health Defence League op te tree oor die meriete van die regering se toediening van Covid-19-entstowwe nie.
En laastens is daar nuus oor die Namibia Economic Freedom Fighters wat die Verkiesingskommissie van Namibië uitdaag oor die deregistrasie van die party. Die NEFF is beveel om die Parlement te verlaat.