Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Inlywings-indaba wil die hoë sterftesyfer by inlywingskole verlaag
# Die Vereniging van Staatsamptenare beskou ‘n Oos-Kaapse kliniek as onveilig
# En, rugby: Oli Kebble sluit aan by die Franse klub Oyonnax
# Pogings duur voort om die groot getalle sterftes by inlywingskole te verminder. Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe hou ‘n Nasionale Inlywingsindaba in Boksburg, Ekurhuleni. Die driedaagse geleentheid bespreek die beste moontlike manier om hierdie tragedies te keer. Die voorsitter van kommissie, David Mosoma, vra onwettige inlywingskole moet kortgevat word want hulle gebruike bedreig die lewens van jong seuns:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is verontrus oor die gevaarlike toestand van die Mpozolo-kliniek in die Oos-Kaap, wat ernstige risiko’s inhou vir pasiënte en personeel. Die gebou van die kliniek het strukturele gevare, gebreekte vensters en ‘n oorgroeide terrein vol slange. ‘n Woordvoerder van die vereniging, Thami Makuzeni, eis dringende ingryping deur gesondheid- en veiligheidsamptenare om die welstand van gesondheidsorgwerkers en pasiënte te verseker:
# Die I_Menstruate-beweging het die Exesheni-uitstalling in Franschhoek van stapel gestuur en president Cyril Ramaphosa gevra om gratis menstruele produkte te verskaf. Meer as 80-persent van die meisies wat ondervra is in 18 skole, het nie gereelde toegang tot sanitêre doekies nie, wat ‘n bewys is van die stryd sonder voldoende menstruele higiëne-produkte. Die stigter van die beweging, Tracey Malawana, het die dringende behoefte aan regerings-ondersteuning beklemtoon om “menstruele-armoede” landwyd te bekamp, aangesien hoë koste gesinne dikwels dwing om moeilike finansiële keuses te maak.
# Rugby: ‘n Sleutellid van die Glasgow Warriors, die kampioene van die Verenigde Rugbykampioenskap, het vanaf aanstaande seisoen ‘n kontrak van twee jaar gesluit met die tweedeligaspan, Oyonnax. Die gebore Suid-Afrikaner en Skotse stut, Oli Kebble, sluit by die Franse span aan na hulle relegasie uit die Top 14. Die 32-jarige Kebble het in 2022 die laaste van sy twaalf toetse gespeel en was lid van Glasgow wat die Bulle verlede week getroef het om die eerste keer die VRK-trofee omhoog te hou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-914-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-298-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Stygende temperature het hulle tol geëis met ‘n wasstandbeeld van Amerikaanse president, Abraham Lincoln, in Washington DC. Die meer as 1,8-meter replika van die Lincoln-gedenkteken het in die hitte begin wegsmelt voordat dit heeltemal kop verloor het. Toe het een van die bene losgekom van die lyf en ‘n voet het in ‘n vormlose hopie verander. Die stoel het in die grond weggesink. Die wasstandbeeld is buite ‘n skool by Camp Barker geplaas – ‘n vlugtelingkamp uit die Burgeroorlog vir voormalige Afro-Amerikaner-slawe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….