Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad het 3,5-miljard-rand oor ‘n tydperk van drie jaar van Nedbank bekom vir ‘n infrastruktuurprojek. Die bedrag is deur die metroraad goedgekeur en is deel van projek van 39,5-miljard-rand om teen 2027 120-duisend werksgeleenthede in konstruksie te skep. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die kontant-inspuiting is die grootste infrastruktuur-belegging ooit in ‘n metro in Suid-Afrika. Die stad het ook 2,7-miljard-rand van die Internasionale Finansieringskorporasie en 1,95-miljard-rand van die Franse Ontwikkelingsagentskap ontvang.
‘n Onafhanklike skool in Ottery, Kaapstad is intussen op die kortlys vir die prys vir die wêreld se beste skool wat teenspoed oorkom het. Christel House South Africa verskaf gratis onderwys aan kinders uit gemeenskappe met min hulpbronne, en bied gesondheidsorg, vervoer, maaltye, skoolklere en psigo-sosiale ondersteuning. Leerders het gewoonlik probleme soos voedsel-onsekerheid, werkloosheid en blootstelling aan geweld. Die vyf wenners word aangewys deur ʼn kenner wat akademie in ag neem, terwyl openbare stemme die wenner van die Gemeenskapskeuse-toekenning sal bepaal. Finaliste word in September aangekondig en wenners in November.
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie sê ‘n belegging in tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding is nie net deurslaggewend nie, maar sal Suid-Afrika se ontwikkelingspotensiaal ontsluit. Die ontwikkeling van menslike kapitaal ontvonk ekonomiese groei en maatskaplike vordering. Die ontwikkeling van die land se sektor vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding benut die potensiaal. Dié vooruitgang, saam met openbare, privaat en wêreldwye vennootskappe en kapitaalbeleggings versterk die bestaanswaarde en skep ‘n primêre beleggingsgeleentheid vir volhoubare ontwikkeling.
# Die George-munisipaliteit het sy hartlike dank uitgespreek teenoor alle inwoners en organisasies wat skenkings aan slagoffers van die brand in die Thembalethu-plakkerskamp gemaak het. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die munisipaliteit vra die publiek vriendelik om eers nie nog bydraes te maak nie. Mangqwengqwe sê die artikels voldoen tans aan hulle behoeftes en is onder die betrokke gesinne verdeel:
# En om mee af te sluit: Ronaldo, die 1,8 meter lange Brasiliaanse reënboog-luislang wat ʼn veearts nege jaar gelede as mannetjie geklassifiseer het, het 14 kleintjies gekry al het hy geen kontak met ander slange gehad nie. Wetenskaplikes skryf dit toe aan ʼn skaars verskynsel, partenogenese. ʼn Reptielkenner beskryf dit as ʼn natuurlike vorm van aseksuele voortplanting waar embrio’s sonder bevrugting ontwikkel. Dit kom voor by plante en sommige diere, maar Ronaldo se swangerskap is slegs die derde geval in die wêreld wat vir ʼn luislang in gevangenskap aangeteken word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….