Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Suid-Afrika kan ‘n finansiële klimaatpakket van 170-miljard-rand verbeur indien die sluiting van steenkoolaanlegte uitgestel word. Die Billike-Energie-oordragvennootskap waarop in 2021 ooreengekom is, het lenings, toelaes en waarborge aangebied om afhanklikheid van steenkool te verminder. ʼn Paneel wat die minister van die Omgewing, Barbara Creecy, aangestel het, sê kommer bestaan omdat Eskom die kragaanlegte by Grootvlei, Hendrina en Camden weens kragonderbrekings eers in 2030 gaan sluit. Die nasionale omgewing-, konsultasie- en raadgewende forum waarsku die besluit bring die finansiering in gedrang, al verstaan hulle die kommer oor energiesekerheid.
# ‘n Inter-regeringskomitee van die Stad Kaapstad is geskep om hondsdolheid onder die Kaapse pelsrob-bevolking te takel. Die komitee, wat verteenwoordigers van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, die Suid-Afrikaanse Parkeraad en veeartseny-spesialiste insluit, het ten doel om die omvang van hondsdolheid by die robbe te bepaal en ‘n bestuurstrategie in te stel. Daar is nou vyf bevestigde gevalle van hondsdolheid onder die Kaapse pelsrob-bevolking. Die publiek word aangeraai om kontak met robbe te vermy en riglyne te volg. Onmiddellike mediese aandag is nodig sou iemand deur ‘n rob gebyt word.
# En ten slotte: Ronaldo, die 1,8 meter lange Brasiliaanse reënboog-luislang wat ʼn veearts nege jaar gelede as mannetjie geklassifiseer het, het 14 kleintjies gekry al het hy geen kontak met ander slange gehad nie. Wetenskaplikes skryf dit toe aan ʼn skaars verskynsel, partenogenese. ʼn Reptielkenner beskryf dit as ʼn natuurlike vorm van aseksuele voortplanting waar embrio’s sonder bevrugting ontwikkel. Dit kom voor by plante en sommige diere, maar Ronaldo se swangerskap is slegs die derde geval in die wêreld wat vir ʼn luislang in gevangenskap aangeteken word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….