Nuus 08:00
BULLETIN 26 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lauren Dickason word tot 18 jaar gevonnis vir die moord op haar drie kinders
# Die GOOD-party sê die DA kan moontlik uit die regering van nasionale eenheid onttrek
# En sokker: Bafana Bafana kom vanaand te staan teen die Mosambiekse Mambas
# Die Suid-Afrikaanse dokter, Lauren Dickason, sal 18 jaar in ʼn psigiatriese inrigting in Nieu-Seeland deurbring vir die moord op haar drie kinders. Dickason is van moord aangekla nadat sy op 16 September 2021 die sesjarige Liané, en tweejarige tweeling Maya en Karla verwurg en versmoor het terwyl haar man saam met kollegas gaan uiteet het. Sy het onskuldig gepleit, maar ʼn jurie het haar op 16 Augustus verlede jaar skuldig bevind. Die Hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland, het Woensdag beslis dat sy haar vonnis by ʼn psigiatriese eenheid in die Hillmorton Hospitaal uitdien.
# Die GOOD-party se sekretaris-generaal, Brett Herron sê sy party dink die DA kan uit die Regering van Nasionale Eenheid onttrek. Herron bespiegel die DA se eise vir die pos as adjunk-president en verskeie sleutel Kabinetsposisies is ‘n voorloper tot ‘n onttrekking. Hy beskryf die brief van DA federale voorsitter, Helen Zille aan ANC sekretaris-generaal, Fikile Mbalula as moontlike regverdiging vir haar party se onttrekking as daar nie aan hulle eise voldoen word nie. Herron voer aan die brief kan of as onredelike eise gesien word of ‘n standaard onderhandelingstegniek vir toekomstige vergunnings.
# Die Onafhanklike Gemeenskapskapsapteekvereniging sê die toenemende misbruik van oor-die-toonbank-middels in Suid-Afrika is kommerwekkend en beskryf dit as ‘n groeiende uitdaging in openbare gesondheid. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad op Afhanklikheid van Alkohol en Dwelms fokus vandeesweek op bewustheid van dwelmmisbruik. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Jackie Maimin, versoek die publiek om die Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handel te gedenk om ‘n wêreld vry van dwelmmisbruik te bevorder:
Die Stad Kaapstad sê intussen sy dwelmmisbruikvoorkomingsprogramme is hoog in aanvraag op Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik en Onwettige Handel. Sleutelinisiatiewe soos Essentially Me en Driving my Future het drie-duisend-768 leerders bereik, ‘n toename van 31-persent. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, doen ‘n beroep vir gemeenskapsbetrokkenheid om veerkragtigheid by kinders op te bou om dwelmmisbruik te bekamp:
# Sokker: Suid-Afrika skop sy 2024 Cosafabeker-veldtog vanaand om ses af wanneer hulle Mosambiek in hul eerste Groep A-wedstryd in Gqeberha takel. Suid-Afrika is vyfmalige Cosafabeker-kampioen, maar is verlede jaar deur die uiteindelike kampioen van Zambië in die halfeindronde uitgeskakel. Bafana Bafana word vir die toernooi deur hulpafrigter Helman Mkhalele gelei wat ‘n sterk groep vir die wedstryd aangewys het. Mosambiek is verlede jaar in die eerste ronde uitgeskakel nadat Lesotho en Angola hulle in die groepwedstryde verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-en-25-dollar-14-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….