Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Hlophe bevestig die MK-party se vermoedens oor verkiesingsbedrog ondanks sy deelname aan die Nasionale vergadering
# Al Jama-ah bevestig Fase 2 van die regering van nasionale eenheid
# En, tennis: Jannik Sinner het meer selfvertroue voor Wimbledon na sy eerste grasbaantitel
# Die parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, sê hulle deelname aan die Nasionale Vergadering beteken glad nie hulle het hulle oortuiging dat daar verkiesingsbedrog was, laat vaar nie. Lede het vandag met ‘n eed onderneem om die Grondwet as LP’s te handhaaf, nadat hulle die eerste sitting van die Parlement geboikot het. Hlophe het bygevoeg hulle is daar om te werk en gaan hulle nie met kleinlikhede ophou nie, maar is ook vasbeslote om hulle nie te laat intimideer nie:
# Al Jama-ah se leier, Ganief Hendricks, het bevestig fase 2 van die regering van nasionale eenheid het begin. Hendricks sê strukture moet nog gevestig word en het Suid-Afrikaners aangemoedig om geduldig te wees, aangesien tien politieke partye betrokke is. Hy het ‘n beroep op partye gedoen om die ANC te ondersteun in samesprekings oor die regering van nasionale eenheid:
# Die Transnet Nasionale Haweowerheid het ‘n 25-jaar-konsessie aan ‘n logistieke onderneming toegestaan om ‘n houerterminaal by die Richardsbaai-hawe te bou en te bedryf. Die terminaal, ter waarde van 285-miljoen-rand, wat na verwagting in 2027 in werking sal wees, beoog om jaarliks 50-duisend tot 200-duisend houers te hanteer. Die Hawebestuurder, Dennis Mqadi, sê hierdie projek sal ekonomiese groei versterk, logistieke koste verminder en werk skep, wat veral nywerhede in die noorde van KwaZulu-Natal sal bevoordeel. Hy het gesê maatreëls om hawe-opeenhoping te verlig, sluit die oorskakeling van meer vrag na spoor en beter koördinasie in.
# Die Europese Unie het aan Oekraïniërs die reg om in die gebied aan te bly met nog ‘n jaar verleng tot Maart 2026, terwyl die oorlog in hulle tuisland voortwoed. Daar is ongeveer 4,2-miljoen Oekraïnse vlugtelinge regoor die EU met die meeste in Duitsland, Pole en die Tsjeggiese Republiek. Die 27 lande van die Europese Unie het aan Oekraïniërs die reg om aan te bly toegestaan slegs weke na Moskou in Februarie 2022 met sy inval begin het. Die reëling sou op 4 Maart volgende jaar verval het.
# Tennis: Jannik Sinner mik nou na Wimbledon nadat hy Sondag sy eerste grasbaantrofee in Halle, Duitsland, ingepalm het. Volgens die Italianer het hy meer selfvertroue op dié oppervlak voor die Grand Slam-toernooi wat volgende week begin. Die 22-jarige het die agste manspeler sedert die instelling van die ATP-ranglyste in 1973 geword om die eerste toernooi nadat hy tot die wêreld nommer een gevorder het, te wen. Hy het sy dubbelspelmaat, Hubert Hurkacz, met 7-6 en 7-6 in Duitsland geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-98-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….