Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Musi Maimane skryf aan Ramaphosa om dringend ‘n nasionale konvensie byeen te roep bestaande uit al 18 Parlementêre partye
# Suid-Afrika verloor 67 000 poste in die eerste kwartaal van 2024
# En, rugby: Rassie Erasmus kondig ‘n groep van 39 spelers aan vir die toetse teen Ierland en Portugal
# BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê hy het aan president Cyril Ramaphosa geskryf en versoek hy moet dringend ‘n nasionale konvensie byeenroep wat uit al 18 Parlementêre partye bestaan. Verder moet daar ‘n mandaat wees om te besluit oor die doel, agenda en omvang van ‘n nuwe regering van nasionale eenheid. Maimane sê ‘n nasionale konvensie bied die mees demokratiese en deursigtige weg om ooreen te kom rakende die samestelling van ‘n nuwe nasionale regering wat gegrond is op waardes en dienslewering:
# Suid-Afrika het in die eerste kwartaal van vanjaar 67-duisend werksgeleenthede in die formele, nie-landbousektor verloor. Volgens die Kwartaallikse-indiensnemingstatistieke-opname wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, het die algehele indiensneming in dié sektor tot 10,7-miljoen gedaal. Die handel- en gemeenskapsdiens-bedrywe het die hoogste aantal werksverliese getoon, gevolg deur die sakedienste- en mynbedryf. Die vervaardigings-, vervoer- en konstruksie-bedrywe het werksgeleenthede bygevoeg. Basiese salarisse en lone betaal aan werknemers, het van Maart 2023 tot Maart vanjaar met 5-persent gestyg.
# Die polisie in Gauteng sê misdaad in Eldorado Park word gepleeg deur misdadigers wat aan die slagoffers bekend is en wat gewoontemisdadigers is wat desperaat is om vinnig geld te maak om dwelms te kan koop. ‘n Polisiewoordvoerder, Fezeka Khobo, sê vier verdagtes in motorkapings is Maandag in die gebied in hegtenis geneem. Khobo sê misdaad word meestal deur jeugdiges gepleeg met ouers wat ook oortreders of medepligtiges is:
# Die Europese Unie het vandag formeel met onderhandelings met Oekraïne en Moldawië begin wat die brose voormalige lede van die Sowjetblok op koers plaas om lidmaatskap te verkry wat Rusland teenstaan. Hierdie geskiedkundige stap is in die eerste plek ‘n mosie van vertroue in die toekoms van Oekraïne aangesien Moskou in beheer is op die slagveld, bykans twee-en-‘n-halfjaar na die Kremlin se inval. Volgens die president van Oekraïne, Volodomyr Zelensky, was dit “waarlik geskiedkundig” toe die 27 lidlande van die EU verlede week besluit het om die onderhandelings te begin.
# Rugby: Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het ‘n sterk groep van 39 spelers aangewys asook ‘n bykomende 14 spelers is op ‘n bystandslys vir die toetse teen Ierland en Portugal. Nege spelers wat nie beskikbaar was vir die toets teen Wallis nie en twee nuwelinge is ingesluit. Dié twee is die haker en stut van die Bulle, Johan Grobbelaar en Jan-Hendrik Wessels. Cheslin Kolbe en Lukhanyo Am is terug na beserings. Handré Pollard, Jasper Wiese, Siya Kolisi, RG Snyman, Marco van Staden, Kurt-Lee Arendse en Willie le Roux is ook terug.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-259-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….