Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Universiteit van Fort Hare, in samewerking met die Noordwes-universiteit, gaan ‘n kollokwium aanbied ter ere van wyle regter Yvonne Mokgoro. Dit is uit erkenning aan haar besondere impak op die Suid-Afrikaanse regslandskap en verbintenis tot geregtigheid. Die tema is: ‘n Akademikus en ‘n Regter, Essays ter Ere van Mokgoro en sal in Oktober vanjaar plaasvind by die Mahikeng-kampus van die Noordwes-universiteit. ‘n Uitnodiging is uitgereik vir die voorlegging van referate vir die kollokwium, wat die erfenis van hierdie regskenner sal gedenk.
# Die Universiteit van die Wes-Kaap sê professor Roy Maartens se statuur as internasionaal erkende navorser in astrofisika is bevestig toe hy ‘n A1-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang het. Hy beywer hom sedert 2011 vir die universiteit se betrokkenheid by die Square Kilometre Array of SKA-projek. Maartens het sy A-gradering vir navorsing in kosmologie ontvang. Sy werk is gemik op inligting oor die verspreiding van miljoene sterrestelsels wat ʼn “fossielrekord” is van die vroegste heelal. Dit bevat ook tekens van later tye van donker energie en donker materie.
# ʼn Aandskool vir minderbevoorregte volwassenes open volgende kwartaal in Lavender Hill. Hopeful Leaders Night School is deur Yumna Alexander gestig om ouers te help wat weens maatskaplik-ekonomiese omstandighede nie matriek kon skryf nie. Die inisiatief wat in 2020 begin het, het uitgebrei tot ses skole reg oor Kaapstad. Vakke sluit in wiskundige geletterdheid, Engels en aardrykskunde. Meer as een-duisend-200 student het in 2024 by die skool ingeskryf.
# Rand Water het die instandhouding van die F5-pypleiding in Mogale City suksesvol afgehandel, nege ure voor skedule. Die projek is deel van ‘n maandlange instandhoudingsprojek regoor Gauteng en het die F16-pypleiding met die nuwe F5-pypleiding gekoppel. Die volgende fase het met die Eikenhof-, Zwartkopjes- en Mapleton-stelsels begin, insluitende skoonmaak van die afsaktenk en klepvervanging. Intussen sal instandhouding van die Palmietstelsel Vrydag begin.
# China het die eerste land geword wat monsters van die maan se agterkant suksesvol kon terugbring Aarde toe. Sendings na die maan se agterkant is weens die bergagtige terrein baie moeiliker. SkyNews berig China se maantuig het na die Aarde teruggekeer en in dié land se noordelike Binne-Mongolië-streek geland. Die Chang-tuig het ongeveer seweuur Suid-Afrikaanse tyd geland met maangrond aan boord wat vroeër die maand versamel is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….