Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid moet mense se belange voorop stel
# Die Padverkeerbestuurskorporasie veroordeel Outa se aanval op die Vervoerdepartement
# En, rugby: Die Bokke kom eers môre in Suid-Afrika aan nadat hulle vlug gekanselleer is
# President Cyril Ramaphosa sê alles moet in die stryd gewerp word om te verseker die regering van nasionale eenheid bly getrou aan die gees van samewerking en goedertrou die lewens van die land en al sy mense te bevorder. Ramaphosa sê namate die partye die modaliteite van die regering van nasionale eenheid finaliseer, is die dae en weke wat voorlê, krities. Hy sê politieke partye moet nie hulle energie mors op diegene wat in die pad staan van die land se vooruitgang nie, of momentum verloor oor verskille wat opgelos kan word nie.
# Die Padverkeer-bestuurskorporasie veroordeel wat hy noem die Organisasie teen Belastingmisbruik se ongevraagde, kwaadwillige en ongeregverdige aanvalle op die Departement van Vervoer. Die korporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê OUTA se misplaaste belangstelling in die verkrygingsprosesse van die bestuurlisensie-drukker se vervanging en opgradering is skokkend. Zwane sê die organisasie ignoreer ook vordering wat gemaak is om padveiligheid tydens minister Sindisiwe Chikunga se termyn te verbeter:
# Russiese owerhede sê ses mense is dood en meer as 100 gewond in gister se hommeltuig- en missielaanvalle deur Oekraïne. Vyf van die slagoffers, insluitend twee kinders, is dood toe brokstukke van Oekraïnse missiele wat oor ‘n kusgebied in Sevastopol afgeskiet is, hulle getref het. Rusland se ministerie van Verdediging sê Oekraïne én Amerika dra skuld vir die aanval op burgerlikes omdat Amerikaanse missiele gebruik is.
# Rugby: Die Springbokke kom eers môre in Suid-Afrika aan nadat hul vlug vanaf Londen na Johannesburg gekanselleer is. Die span sou gisteraand na Suid-Afrika terugvlieg om voor te berei vir die reeks teen Ierland. Die vlug is gekanselleer ná verskeie vertragings, wat die span gedwing het om vir ‘n ekstra nag in Londen te bly. Die span gaan nou laat vanmiddag terugvlieg. Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sal dus môre sy groep vir die Ierland-reeks bekend maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-441-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-52-sent per vat.
# En, ten slotte: Die Stad Kaapstad sê sy metropolisie gaan voort om in sy honde-eenheid te belê om dwelmhandel te bekamp. Vier nuwe viervoetige rekrute het onlangs met hulle basiese opleiding begin. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê altesaam nege-duisend-328 verdagtes is sedert Julie verlede jaar weens dwelmhandel en dwelmbesit in hegtenis geneem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….