Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin hierdie week met rugby: Die Springbokke kom môre in Suid-Afrika aan nadat hul vlug vanaf Londen na Johannesburg gekanselleer is. Die span sou gisteraand na Suid-Afrika terugvlieg om voor te berei vir die reeks teen Ierland. Die vlug is gekanselleer ná verskeie vertragings, wat die span gedwing het om vir ‘n ekstra nag in Londen te bly. Die span gaan nou laat vanmiddag terugvlieg. Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sal dus môre sy groep vir die Ierland-reeks bekend maak.
Die Blitsbokke het intussen hulle plek by 2024 se Olimpiese Spele in Parys oopgespeel nadat hulle Groot Brittanje gister met 14-5 getroef het in die eindstryd van die Wêreldrugby-kwalifiseringstoernooi in Monaco. Die Suid-Afrikaners is die laaste naam op die lys van 12 nasies wat gaan meeding om die sewes se goue medalje by die Spele. Die ander deelnemers is Frankryk as gasheer, en Nieu-Seeland, Argentinië, Fidji en Australië as die top vier in die 2023 Wêreldrugby Sewesreeks. Die ander het gekwalifiseer omdat hulle streekskwalifikasietoernooiwenners was. Hulle is Uruguay, Ierland, die VSA, Kenia, Samoa en Japan.
# Volgende aan die beurt is krieket: Suid-Afrika het sy Super Agt-wedstryd teen Wes-Indië met drie paaltjies gewen. Die Proteas het die loot gewen en besluit om eerste te boul waarna die Windies 135 vir 8 in hulle 20 boulbeurte behaal het. Reën het egter spel na ‘n paar boulbeurte in Suid-Afrika se kolfbeurt onderbreek en spel is vir net meer as ‘n uur gestaak. Die Proteas is volgens die Duckworth Lewis Stern-metode ‘n teiken van 124 in 17 boulbeurte gestel. Die wenlopies het gekom van die kolf van Marco Jansen met ‘n ses van die eerste bal van die laaste boulbeurt vir ‘n totaal van 124 vir sewe. Die Proteas is deur die halfeindstryd Donderdag.
Engeland het Amerika met dodelike akkuraatheid uitgeskakel en na die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker deurgedring. Engeland het ‘n teiken van 116 gejaag na hulle die loot gewen en besluit het om eerste te boul. Hulle het hulle teenstanders vir slegs 115 uitgehaal en maklik met tien paaltjies gewen. Die kaptein Jos Buttler het met die kolf oorheers en ‘n onoorwonne 83 van 38 balle aangeteken, terwyl Engeland slegs nege boulbeurte en vier balle nodig gehad het om 117 sonder verlies aan teken. Dit is die eerste keer dat Engeland en Amerika mekaar in krieket pak.
# En, ons sluit af met motorsport: Red Bull se driemalige wêreldkampioen, Max Verstappen het gister die Spaanse Grand Prix van McLaren se Lando Norris gewen om sy voorsprong in die wêreldkampioenskap te vergroot. Lewis Hamilton het die derde plek ingeneem by die Barcelona-Catalunya-baan. Dit was Mercedes se sewemalige voormalige kampioen se eerste podiumplek van die seisoen. Vir Verstappen was dit sy 61ste loopbaanoorwinning, sewende van die seisoen, en vierde op die baan waar hy in 2016 as tiener die eerste keer op die F1-toneel verskyn het. Die Nederlander jaag oor ‘n week in Red Bull se tuisren in Spielberg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….