Nuus 08:00
BULLETIN 24 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Panyaza Lesufi stel die aankondiging van sy provinsiale kabinet uit
# n Gallup-verslag dui daarop dat Suid-Afrikaanse werknemers onder die gelukkigste ter wêreld is
# En krieket: Engeland vermorsel die VSA om die T20 Wêreldbeker-halfeindronde te haal
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi het die aankondiging van die provinsiale kabinet gister uitgestel, wat ‘n teken is van verdere onenigheid oor die samestelling van die regering van nasionale eenheid. Die premier se woordvoerder, Sizwe Pamla, sê die aanstelling van die nuwe LUR’e neem die bekwaamheid en vaardighede van lede in ag en verseker ook geslagsverteenwoordiging volgens die mandaat van die mense van Gauteng:
# Die vakbond, Giwusa, sê hulle kon gemeenskaplike grond vind en ‘n salarisverhoging beklink vir lede en werkers in die snel bewegende sektor vir verbruikersgoedere. Giwusa se woordvoerder, Koketso Phasha, sê dis gebaseer op die gemiddelde verbruikersprysindeks plus een-persent. Die laagste is 5,5-persent met ʼn maksimum van sewe-persent:
# Suid-Afrikaanse werknemers is onder die gelukkigste ter wêreld, en toon hoër vlakke van betrokkenheid en geesdrif, vergeleke met die globale gemiddeld. Volgens Gallup se State of the Global Workplace-verslag, is 29-persent van Suid-Afrikaanse werknemers in hulle werkplekke betrokke, wat die wêreldwye gemiddeld van net ses-persent oorskry. Dit word toegeskryf aan sterk arbeidswetgewing en positiewe werkservarings. Hoë betrokkenheid bevorder produktiwiteit, personeelretensie, en beter kliëntediens, met positiewe sake-uitkomste. Ondanks uitdagings soos daaglikse stres, ervaar 56-persent van die land se werknemers ‘n afname in hul vlak van ontevredenheid en soek nie aktief na ander werk nie.
# Dertien mense is gearresteer nadat ʼn veldbrand op die Griekse eiland Hydra ontstaan het. Owerhede beweer dis veroorsaak deur vuurwerke wat van ʼn super-seiljag afgeskiet is. Die brand het oor meer as 120 hektaar gewoed in die enigste dennewoud op die gewilde toeriste-eiland. Volgens die Griekse media is almal wat in hegtenis geneem is, bemanningslede van die super-seiljag Persephone, wat in die somer uitgehuur word teen sowat 4,8-miljoen-rand per week. Die vermeende oorsaak van die brand het woede ontketen in Griekeland wat reeds verskeie veldbrande bestry en in die greep van sy eerste hittegolf van die jaar is.
# Krieket: Engeland het Amerika met dodelike akkuraatheid uitgeskakel en na die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker deurgedring. Engeland het ‘n teiken van 116 gejaag na hulle die loot gewen en besluit het om eerste te boul. Hulle het hulle teenstanders vir slegs 115 uitgehaal en maklik met tien paaltjies gewen. Die kaptein Jos Buttler het met die kolf oorheers en ‘n onoorwonne 83 van 38 balle aangeteken, terwyl Engeland slegs nege boulbeurte en vier balle nodig gehad het om 117 sonder verlies aan teken. Dit is die eerste keer dat Engeland en Amerika mekaar in krieket pak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-een-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-725-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….