Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die aandeelhouers van die batebestuursfirma Coronation sal waarskynlik ‘n kontantinspuiting ontvang nadat die groep sy lang uitgerekte belastingstryd met die Inkomstediens gewen het. Coronation het ‘n potensiële belastingboete van 794-miljoen-rand ontduik.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die getal kabinetsposte wat aan die DA toegeken word in die regering van nasionale eenheid blyk tans die vernaamste struikelblok te wees. Die DA sê hy wil meer beheer hê. Die onderhandelings duur voort.
Tweedens skryf die koerant ActionSA sê dis skandalig dat die ANC die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa weer wil inhuldig. Kodwa gaan na bewering weens korrupsie in hegtenis geneem word.
En laastens is daar ‘n berig oor die goeie gees op Loftus Versfeld die afgelope naweek waar die Bulle met 21-16 teen die Glascow Warriors verloor het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die voormalige Wes-Kaapse hoofregter, John Hlophe en Zizi Kodwa gaan ingehuldig word as parlementslede ten spyte van die aantygings teen hulle.
En berig oor die Verbruikerskommissie se landswye optrede teen produkte wat verval het.
# En Sowetan:
Berig die MK-party het meer as ‘n 100 kandidate oortuig om hulle parlementêre setels op te gee sodat Hlophe ingehuldig kan word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die onderhandelinge oor die regering van nasionale eenheid.
En tweedens skryf die koerant die afrigter van die Glasgow Warriors, Franco Smith sê hy sal dit oorweeg om terug te keer om die Bokke af te rig.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die onderhandelinge. Die koerant berig Helen Zille is een van die probleme in die proses, maar sy het die bewerings verwerp.
En tweedens is daar nuus oor ‘n jong insleepvoertuigbestuurder, Juan Landsberg, wat gewond is en sy vriendin, Marlene Prinsloo wat in dieselfde voorval doodgeskiet is. Landsberg het ‘n groep mense by Koningstrand in Gqeberha gehelp en daar het na bewering ‘n struweling ontstaan oor die betaling.
# En Cape Times:
Skryf die African Transformation Movement sê hy het geen planne om die Progressiewe Koukus te verlaat nie.
En berig tweedens verbruikers kan uitsien na beduidende brandstofprysdalings.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ook oor die insleepvoertuigbestuurder wat gewond is en sy vriendin wat doodgeskiet is.
En skryf die onderwyser by ‘n kleuterskool wat ‘n kind met ‘n houtlepel teen die kop geslaan het, het tronkstraf vrygespring.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die MK-party maak vordering met sy veldtog om die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli van die IVP te ontsetel.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die LGBTQIA-aktivis wat sodomiewette suksesvol uitgedaag het, het die hoop uitgespreek dat mense kan begin droom van ’n liefde wat nie ’n misdaad is nie.
En tweedens skryf die koerant die staat se reuse-agterstand in konsultasies vir kunstande en die vervaardiging daarvan kan grootliks toegeskryf word aan ‘n gebrek aan personeel en hulpbronne.