Nuus 07:00
BULLETIN 24 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die stryery oor kabinetsposte dreig om die regering van nasionale eenheid te ontspoor
# Die Student Forum 4 Service Delivery wil nie Blade Nzimande of Angie Motshekga in die nuwe Kabinet hê nie
# En die wêreld se lelikste hond word aangewys
# Onderhandelings oor kabinetsportefeuljes tussen die ANC en die DA dreig om die regering van nasionale eenheid te ontspoor. Volgens News24, het die ANC die DA net drie van die 31 kabinetsposte aangebied, veel minder as wat verwag is. Die DA het aanvanklik gemik na tien poste, maar dit afgeskaal na sewe en aangedring op regverdige verteenwoordiging volgens sy verkiesingsteun. Spanning bly hoog, met die DA wat dreig om uit die regerings in KwaZulu-Natal and Gauteng te onttrek te midde van vrese vir marginalisering in die koalisie.
Die Progressiewe Koukus het intussen begin opbreek met die UDM wat aangesluit het by die regering van nasionale eenheid. Dit is aanvanklik gestig om die ANC se oorheersing uit te daag en het opposisiepartye ingesluit soos die EFF, die PAC, Al Jama-ah en die ATM. UDM-leier Bantu Holomisa het positiewe samesprekings met die ANC en ontevredenheid met die dinamika in die koukus aangevoer as rede vir die skuif. Al Jama-ah het nou ook aangesluit by die regering van nasionale eenheid, met tien van die 18 partye in die Nasionale Vergadering wat die verklaring van voorneme reeds onderteken het.
Die Student Forum 4 Service Delivery vra die uitsluiting van die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering Blade Nzimande en sy Basiese Onderwys-kollega Angie Motshekga uit die kabinet van nasionale eenheid. Hulle vra samesmelting van die ministeries en die aanstelling van nie-politiese kenners vir vrye, gedekolonialiseerde onderwys van gehalte. Nhongo Solo van die forum sê kundige ministers sal werk teen uitvalkoerse, werkloosheid en onderwysbron-kwessies:
En om nuus oor die regering van nasionale eenheid af te sluit: Die groep Boycott, Divestment and Sanctions Coalition South Africa vra die nuwe regering om hulle regspan by die Internasionale Geregshof te steun. Hulle moedig die regering ook aan om stappe te doen om medepligtigheid te keer aan Israel se optrede teen Palestyne. Roshan Dadoo van die koalisie waarsku andersins sal Suid-Afrika se internasionale reputasie geskend word en openbare teenstand teen die regering van nasionale eenheid toeneem:
# En nou vir sportnuus – tennis: Tommy Paul het Lorenzo Musetti Sondag in Londen met 6-1, 7-6 verslaan om die Queen’s Club-tenniseindstryd te wen. Dit was die vyfde gekeurde Amerikaner se derde ATP-toertitel, maar sy eerste op gras. Queen’s is een van die voorste opwarmingsgeleenthede vir Wimbledon. In Duitsland het die wêreld se nommer een, Jannik Sinner, ook sy eerste titel op gras gewen toe hy sy Poolse dubbelsmaat, Hubert Hurkacz, by die Halle Ope met 7-6, 7-6 geklop het. Sinner maak gereed vir Wimbledon, waar hy verlede jaar die halfeindronde bereik het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-52-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-23-sent per vat.
# En om die bulletin af te sluit: ‘n Agtjarige Pekinees genaamd Wild Thang het die 2024 ”Wêreld se lelikste hond”-kompetisie in Kalifornië gewen. Die dier het al vyf keer aan die kompetisie deelgeneem en drie keer tweede gekom voordat hy uiteindelik vanjaar die wenner was. Wild Thang het as babahondjie die gevreesde hondesiekte gekry. Hy het gesond geword, maar permanente fisiese skade opgedoen. Hy en sy eienaar, Ann Lewis, het 90-duisend-rand gewen. Die “Wêreld se lelikste hond”-kompetisie word byna 50 jaar al aangebied en vier die gebreke wat alle honde spesiaal en enig in hul soort maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….