Nuus 06:00
BULLETIN 24 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die stryery oor kabinetsposisies dreig om die regering van nasionale eenheid te ontspoor
# Die Verbruikerskommissie begin met ‘n landswye veldtog teen onveilige en vervalde produkte
# En rugby: Die Blitsbokke speel hul plek oop by die 2024 Olimpiese Spele in Parys met ‘n oorwinning oor Groot Brittanje
# Onderhandelings oor kabinetsportefeuljes tussen die ANC en die DA dreig om die regering van nasionale eenheid te ontspoor. Volgens News24, het die ANC die DA net drie van die 31 kabinetsposte aangebied, veel minder as wat verwag is. Die DA het aanvanklik gemik na tien poste, maar dit afgeskaal na sewe en aangedring op regverdige verteenwoordiging volgens sy verkiesingsteun. Spanning bly hoog, met die DA wat dreig om uit die regerings in KwaZulu-Natal and Gauteng te onttrek te midde van vrese vir marginalisering in die koalisie.
Die Vereniging van Staatsamptenare verwelkom intussen president Cyril Ramaphosa se fokus op werkloosheid, arbeidswet-beskerming, die energie-krisis en ‘n professionele staatsdiens. Hulle steun Ramaphosa se toewyding aan die stryd teen korrupsie, die energiekrisis en vir die bemagtiging van vroue. Hulle is egter gekant teen die voorstel dat senior staatsamptenare weer vir hulle poste moet aansoek doen. Claude Naiker van die vereniging sê hulle vertrou die leierskap van die regering van nasionale eenheid:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie slaan landwyd toe op gevaarlike goedere en items wat verstryk het. Hulle eerste teiken was die Capricorn-distriksmunisipaliteit in Limpopo. Dit volg nadat wydverspreide gebrek aan voldoening ontdek is. Dit sluit in die verkoop van goedere wat verstryk het teen ‘n afslagprys, wat verbruikers se gesondheid bedreig. Die woordvoerder van die kommissie, Phetho Ntaba, beloof voortgesette afdwinging om veiligheidstandaarde te behou:
# Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging daag Uber-Suid-Afrika in die Billikheidshof uit weens beweerde diskriminasie teen mense met gestremdhede. Die vereniging beweer Uber-bestuurders is onregverdig teenoor mense met gestremdhede, veral dié met gidshonde. Hulle betoog dit skend grondwetlike regte. Ter verdediging sê Uber SA die saak moet uitgeklaar word met hulle moedermaatskappy in Nederland. Uber word aangemoedig om sy beleid te hersien, bestuurders beter op te lei, en die aanmeld van onregverdige behandeling te vergemaklik.
# Die Israelse Weermag sê hy ondersoek ‘n voorval wat op video vasgelê is waar sy magte protokol geskend het deur ‘n gewonde Palestynse man vooraan hulle jeep vas te bind tydens ‘n klopjag in die Wes-Oewerstad Jenin. Die video is op sosiale media gedeel. Die weermag sê die man is gewond in ‘n skietgeveg tydens die klopjag, waarin hy ‘n verdagte was. Hy is uiteindelik oorgedra aan die Rooi Sekelmaan-vereniging. Reuters-ooggetuies het die man uitgeken as Mujahed Azmi.
# Die Blitsbokke het hul plek by 2024 se Olimpiese Spele in Parys oopgespeel nadat hulle Groot Brittanje gister met 14-5 getroef het in die eindstryd van die Wêreldrugby-kwalifiseringstoernooi in Monaco. Die Suid-Afrikaners is die laaste naam op die lys van 12 nasies wat gaan meeding om die sewes se goue medalje by die Spele. Die ander deelnemers is Frankryk as gasheer, en Nieu-Seeland, Argentinië, Fidji en Australië as die top vier in die 2023 Wêreldrugby Sewesreeks. Die ander het gekwalifiseer omdat hulle wenners in die streekskwalifikasietoernooie was. Hulle is Uruguay, Ierland, die VSA, Kenia, Samoa en Japan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-148-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….