Nuus 13:00
BULLETIN 22 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sluit aan by die regering van nasionale eenheid
# Die Stad Johannesburg en City Power gaan appelleer teen ‘n hofbeslissing wat Eskom bevoordeel
# En, rugby: Die Springbokke speel teen Wallis met hope ervaring ten spyte van nuwe gesigte
# RISE Mzansi het die verklaring van voorneme van die regering van nasionale eenheid onderteken. Dit volg op samesprekings na die verkiesing waar geen party ‘n volstrekte meerderheid behaal het nie. RISE Mzansi onderneem om met die nuwe regering saam te werk en deel te wees van ‘n nasionale dialoog oor die land se dwingende behoeftes. Die partyleier Songezo Zibi wil kiesers se stemme laat hoor en hulle verkiesingsbeloftes nakom:
# Die Stad Johannesburg en City Power gaan teen die beslissing van die Hooggeregshof in Johannesburg appelleer wat Eskom in ‘n betalingsdispuut bevoordeel. Volgens die Stad is kritieke bewyse verontagsaam. Ten spyte van pogings om te bemiddel, het Eskom die hof genader. Woordvoerder, Isaac Mangena, sê Eskom skuld City Power 3,4-miljard-rand, wat die aangeleentheid kompliseer. Hy sê regspanne het die appèlaansoek ingedien en vertrou die uitslag sal anders wees:
# Die Appèlhof in Bloemfontein het beslis metro’s kan nie elektrisiteit afsny sonder om rekeningklagtes te ondersoek nie. Dit volg op die Stad Tshwane se poging om die plastiekvervaardiger Glofurn te ontkoppel oor ‘n bestrede rekening van 766-duisend-rand. Die hof het die stad se neerhalende houding kritiseer en mense se regte bevestig om rekenings te bevraagteken voor hulle hof toe gaan. Wanbetalers skuld Tshwane 20,5-miljard-rand, met die stad wat op ‘n finansiële krisis afstuur. Die hof bevestig geskille moet volledig ondersoek word voor metro’s basiese dienste soos elektrisiteit kan afsny.
# Rugby: Die Springbokke speel in hulle eerste toets sedert hulle op dramatiese wyse verlede jaar die Wêreldbeker in Frankryk verower het. Hulle kom om drie-uur vanmiddag teen Wallis op Twickenham te staan. Die Walliese kaptein, Dewi Lake, glo hulle is nie die gunstelinge nie en sien daarna uit om teen die wêreldkampioene kragte te meet. Wallis het al ses hulle laaste toetse verloor insluitende die houtlepel in die Sesnasies. Suid-Afrika se opdrafspan, onder aanvoering van Pieter-Steph du Toit, het saam 343 toetse meer gespeel as die Walliese afrigter, Warren Gatland, se span.
# En, op ‘n vrolike noot: ‘n Troetel-donkie wat vyf jaar gelede ontsnap het van sy eienaars in Kalifornië leef lekker saam met ‘n trop wilde elke. Terrie en Dave Drewry se donkie, Diesel, het in 2019 op ‘n staptog geskrik en laat spaander. Hulle het lank gesoek, maar die laaste keer wat Diesel op ‘n staproete-kamera gesien is, was ‘n paar maande later. ‘n Stapper het vroeër die maand die tevrede donkie opgemerk en ‘n video op sosiale media gepos. Die egpaar het Diesel herken maar besluit om die langoor in vrede in die natuur te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….