Nuus 08:00
BULLETIN 22 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA vra Ramaphosa om die kabinet te hervorm vir beter regeringsbestuur
# Die UDM sluit aan by die regering van nasionale eenheid
# En, rugby: Die Springbok-kaptein is opgewonde oor die kragmeting met Wallis
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik moedig president Cyril Ramaphosa aan om nuwe kabinets-aanstellings versigtig te oorweeg vir verandering wat werk. Die uitvoerende hoof Wayne Duvenage vra ‘n vaartbelynde kabinet om doeltreffendheid en fiskale bestuur te verbeter vir deursigtige en aanspreeklike regeringsbestuur. Die organisasie veroordeel die moontlike her-aanstelling van sekere ministers, onder wie Blade Nzimande, Sindisiwe Chikunga en Gwede Mantashe, en noem voortgesette ondoeltreffendheid en korrupsie in hulle departemente:
# Die UDM het aangesluit by die regering van nasionale eenheid na ‘n vergadering met die ANC. Die party het hom vroeër geskaar by die Progressive Caucus in die Parlement. Die UDM stel ‘n tegniese komitee voor om die beleid en manifes van alle parlementêre partye te bestudeer. Die leier Bantu Holomisa vra samewerking in die Parlement vir betekenisvolle verandering in Suid-Afrika:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die aansoek van die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, vir tronkstraf weens minagting vir haar opvolger, Kholeka Gcaleka, met koste van die hand gewys. Regter Nicoline Janse van Nieuwenhuizen het die aansoek as onreëlmatig bestempel en was erg krities oor Mkhwebane se lasterlike aantygings. Die regter het nie saamgestem met Mkhwebane se poging om vir tronkstraf aansoek te doen as deel van haar veldtog om ‘n gratifikasie van tien-miljoen-rand te bekom nie. Mkhwebane is tien dae gegun om ‘n gewysigde aansoek in te dien, indien sy wil voortgaan.
# Katar sê hy sit bemiddelingspogings voort om die gaping tussen Israel en die Palestynse militante groep Hamas te oorbrug en ‘n wapenstilstand in Gaza te verseker sowel as die vrylating van Israeliese gyselaars wat daar aangehou word. Die emiraat, saam met die Verenigde State en Egipte, is besig met maande se onderhandelings oor besonderhede vir ‘n wapenstilstand in Gaza. Daar was egter buiten ‘n pouse van sewe-dae in November wat gelei het tot die vrylating van meer as 100 gyselaars, geen onderbreking in die gevegte nie.
# En, rugby: Springbok-kaptein, Pieter-Steph du Toit, verwag ‘n taai stryd teen Wallis wanneer hulle vandag hulle 2024-seisoen op Twickenham begin. Du Toit voer die span die tweede keer aan en wys op die betekenis vir hom om teen Wallis te speel aangesien hy sy toetsdebuut teen hulle gemaak het. Ten spyte van die Springbokke se onlangse suksesse, insluitende agtereenvolgende Rugby Wêreldbeker-titels, is Du Toit lugtig vir Wallis se fisiese benadering en inklimspel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….