Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met die Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het nog 81 sportlui uit nege sportkodes bekendgemaak wat aan volgende maand se Spele gaan deelneem. Span Suid-Afrika het verlede maand 39 atlete uit sportsoorte soos watersport, branderplankry en rotsklim se name bevestig. Suid-Afrika sal aan 17 van die 32 Olimpiese sportsoorte deelneem. Saskok het vroeër aansporings van 400-duisend-rand vir ‘n goue medalje, 200-duisend-rand vir silwer, en 100-duisend-rand vir brons aangekondig. Hy het intussen nog finansiële aansporings vir medaljewenners bevestig.
# Vervolgens, krieket: ‘n Driekuns deur Pat Cummins en ‘n blitsige 53 nie uit nie deur David Warner het Australië gister by die T20 Wêreldbeker in Antigua gehelp om Bangladesj met 28 lopies in ‘n Super Agt-wedstryd te klop wat deur reën ontwrig is. Australië wil graag ‘n geskiedkundige driekuns behaal met die Wêreld Toetskampioenskap, die Eendag Wêreldbeker en die T20 Wêreldbeker-titels en is gister volgens die Duckworth-Lewis-formule as oorwinnaars aangewys toe reën spel tot stilstand gedwing het. Die wedstryd tussen Engeland en Suid-Afrika begin om half-vyf vanmiddag.
# Nou rugby: Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie het in 2023 ‘n voorbelaste begrotingstekort van 6,8-miljoen-rand aangemeld weens buitengewone uitgawes met wedstryde. Verlede jaar het betekenisvolle finansiële uitdagings geskep. Uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die uiteinde was ‘n besonderse prestasie in ‘n globale rugbylandskap waar verskeie ander unies groot verliese aangemeld het. ‘n Aansienlike 38-persent van die jaarlikse inkomste van 1,35-miljard-rand is belê in deelname aan die Verenigde Rugbykampioenskap en die Europese Klubrugby-kompetisies en die uiteindelike suksesvolle veldtog in die Rugby Wêreldbeker.
Francois Davids is intussen by die Jaarvergadering van Suid-Afrikaanse Rugby-unie in Kaapstad herverkies as visepresident. Hy sal ‘n termyn van vier jaar dien. Davids is teengestaan deur die voormalige president van die Vrystaatse Rugby-unie, Jerry Segwaba. Twee poste in die Uitvoerende Raad is ook betwis. Jannie Louw is vir ‘n tweede termyn herkies en advokaat Willie Small is tot nuwe lid vir ‘n termyn van vier jaar verkies.
# Ons sluit af met tennis: Die Wimbledon-kampioen en tans wêreld nommer-twee, die 21-jarige Carlos Alcaraz, sê verloor is deel van die lewe. Die Spanjaard het ‘n skoknederlaag teen die Brit Jack Draper gely in die laaste 16 in die Queen’s Club-toernooi in Londen. Alcaraz, verlede jaar se wenner, het 7-6, 6-3 teen Daper vasgeval wat sy grootste loopbaan-oorwinning behaal het. Die 22-jarige Draper, die voorste Brit, kan die eerste Britse man word wat die Queen’s wen sedert 2016 toe Andy Murray sy vyfde Queen’s-titel ingepalm het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….