Nuus 11:00
BULLETIN 21 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Transnet gaan appèl aanteken teen die bevel om miljarde se skadevergoeding aan Sasol Oil te betaal
# Louisiana is die eerste Amerikaanse staat wat die Tien Gebooie verpligtend maak in klaskamers
# En rugby: Felipe Contepomi is besig om die Pumas te herbou vir die 2027 Wêreldbeker in Australië
# Transnet beplan om appél aan te teken teen ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria om skadevergoeding ter waarde van meer as ses-miljard-rand plus rente aan Sasol Oil en TotalEnergies te betaal. Die uitspraak volg op ‘n langdurige geskil oor pyplyntariewe na die Natref-raffinadery. Sasol Oil en TotalEnergies is onderskeidelik 3,8-miljard-rand en 2,1-miljard-rand in skadevergoeding toegeken. Die staatsbeheerde instelling het teleurstelling uitgespreek en sê die uitspraak hou beduidende gevolge in oor sy vermoë om sy verpligtinge na te kom. Transnet het sy regspan opdrag gegee om te appelleer.
# Die DA in die Vrystaat sê hy hoop premier Maqueen Letsoha-Mathae se leierskap bring tasbare herstel en vordering vir inwoners, veral vir die 62-persent wat in armoede leef. Roy Jankielsohn van die DA sê hulle neem kennis van Letsoha-Mathae se belofte om korrupsie te takel en ‘n etiese staat te bou. Hy sê sy party sal die nakoming van die belofte fyn dophou en seker maak korrupsie in die regering word doeltreffend hanteer:
# Louisiana het die eerste Amerikaanse staat geword waar die Tien Gebooie volgens wet in elke openbare skool se klaskamer vertoon moet word. Die Republikeinse goewerneur Jeff Landry het Woensdag die wet onderteken wat vereis dat ʼn plakkaat-grootte, maklik leesbare voorstelling van die godsdienstige riglyne in alle klaskamers, van kleuterskool tot staatsbefondsde openbare universiteite, vertoon word. Landry sê as ʼn mens die oppergesag van die reg wil respekteer, moet jy met die oorspronklike wetgewer begin – wat Moses was. Verskeie groepe het egter gesê hulle gaan die wetgewing in die hof teenstaan.
# Rugby: Die nuwe afrigter van Argentinië, Felipe Contepomi, het ‘n groep met talle veranderings aangekondig vir aanstaande maand se toetse teen Frankryk en Uruguay. Hy het 15 spelers weggelaat uit die groep vir die Wêreldbeker verlede jaar. Onder die groot name wat weggelaat is, tel twee met meer as eenhonderd toetse, haker Agustin Creevy en losskakel Nicolas Sanchez asook die veelsydige agterspeler, Juan Cruz Mallia. Contepomi het vier nuwelinge ingesluit. Volgens hom begin die nuwe Wêreldbeker-siklus vanjaar en bereik in 2027 ‘n hoogtepunt met die Wêreldbeker in Australië.
# Die Nasionale Seereddingsinstituut waarsku mense aan die kus oor die springgety met volmaan wat lei tot hooggety wat hoër en laaggety wat laer as gewoonlik is. Springgety bereik môre ‘n hoogtepunt. ‘n Woordvoerder van die NSRI, Craig Lambinon, sê die rowwer seetoestande en winterstorms verhoog gevare vir baaiers, mense op bote en strandstappers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-580-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….