Nuus 06:00
BULLETIN 21 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus word die sewende party wat by die regering van nasionale eenheid aansluit
# COSATU eis dat die DA Renaldo Gouws skors
# En die akteur Donald Sutherland is oorlede
# Die VF Plus het gistermiddag aangekondig hy het besluit om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit saam met die ANC, DA, IVP, PA, GOOD en PAC. Die partyleier Pieter Groenewald sê die VF Plus het ‘n uitnodiging ontvang en na deeglike oorweging besluit om te help met die herstel en herbou van die land. Hy sê die party het die verklaring van voorneme onderteken en sal die geleentheid gebruik om sy beleid en die mandaat van sy kiesers te bevorder. Groenewald sê die VF Plus sal ook die geleentheid gebruik om die rol van die Parlement te herstel.
Die ANC-vroueliga het intussen hulle teleurstelling uitgespreek oor die gebrek aan vroue wat op uitvoerende vlakke aangestel is. Die sekretaris-generaal, Samkele Maseko, het aan die SABC gesê die liga is ongelukkig omdat daar slegs twee vroue-premiers in Suid-Afrika is, naamlik Phophi Ramathuba in Limpopo en Maqueen Letsoha-Mathae in die Vrystaat. Maseko noem dit ‘n terugslag en dring aan op meer vroue-verteenwoordiging ná 30 jaar van demokrasie:
# COSATU eis dat die DA en die Parlement die parlementslid, Renaldo Gouws, verwyder weens sy rassistiese uitbarsting op sosiale media. Die DA het Gouws wel onmiddellik geskors terwyl hy besig is met dissiplinêre maatreëls voor die party se federale regskommissie. COSATU se woordvoerder, Zanele Sabela, sê egter dit is onvoldoende om Gouws te skors en dring aan op sy verwydering. Sy neem kennis van Gouws se oortreding van die anti-diskriminasiewette en gedragskodes:
# Eskom het sy appèlsaak gewen om vyf van sy oudste aanlegte in bedryf te hou ondanks dreigende uitstralingsbeperkings. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het aangekondig die aanlegte kan tot Maart 2030 onder die huidige beperkings werk, wat hulle vrystel van die strenger beperkings in 2025. Eskom moet binne ‘n jaar planne indien om Hendrina, Grootvlei, Arnot, Camden en Kriel uit diens te stel. Eskom, wat voldoeningskoste van 300-miljard-rand in die gesig staar, sê hy bestee miljarde aan besoedelingskwessies en trek finansieel noustrop.
# Rugby: Kaartjies vir die langverwagte kragmeting tussen die wêreldkampioene, die Springbokke, en Nieu-Seeland op die Kaapstad-stadion in September is amptelik uitverkoop. Die Bokke sal gasheer wees vir die All Blacks in die Rugbykampioenskap op 31 Augustus op Ellispark, voor ‘n opwindende herhaling van die 2023 Rugby Wêreldbeker-eindstryd op 7 September in Kaapstad. ‘n Volgepakte stadion van meer as 58-duisend mense word verwag. Die Bokke skop hul seisoen Saterdag teen Wallis op Twickenham af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-692-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte, Donald Sutherland, wat in rolprente soos The Hunger Games en Kelly’s Heroes verskyn het, is op die ouderdom van 88 oorlede. Sy agentskap sê hy is ná ‘n lang siekbed in Miami dood. Die Kanadese akteur het ‘n Emmy en ‘n Golden Globe gewen vir sy spel in die mini-reeks Citizen X. In 2017 het hy ‘n ere-Oscar ontvang. Sy seun en mede-akteur Kiefer Sutherland, sê sy pa was een van die belangrikste akteurs in die geskiedenis van die rolprent. Hy sê sy pa is nooit deur ‘n rol afgeskrik nie. Hy was lief vir sy werk en het gedoen waarvoor hy lief was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….