Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum bepleit geregtigheid in Malema se vuurwapenverhoor
# Giwusa vra die regering om die lank-uitstaande Basiese Inkomstetoelae in te stel
# En, rugby: Patrick Tuipulotu herstel van ‘n kniebesering om die Blues aan te voer teen die Chiefs in eindstryd
# Die EFF-leier, Julius Malema, en sy medebeskuldigde, Adriaan Snyman, is tans in die Streekhof in Oos-Londen en AfriForum hou vol geen politikus is verhewe bo die reg nie. AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, kritiseer Malema se wispelturige verdediging en beklemtoon deskundige menings wat die bewerings van die gebruik van leë patrone of ‘n speelgoedgeweer betwis. Hy beklemtoon ook Snyman se vorige wangedrag in verband met vuurwapens:
# Die algemene werkersvakbond, Giwusa, vra die regering om die ekonomie te laat herleef deur werk te skep en die lone te verbeter, asook om die lank uitstaande Basiese Inkomstetoelae in te stel. ‘n Woordvoerder van Giwusa, Koketso Phasha, sê dit kan bereik word deur die herinstelling van ‘n redelike korporatiewe belastingkoers, wat in 1992 op 52,5-persent gestaan het, maar intussen gedaal het tot 27-persent, sonder ‘n ooreenkomstige styging in belegging deur die privaat sektor:
# ActionSA in die Noord-Kaap sê die regering moet die grense beveilig, onwettige immigrasie beëindig en die invloei van onwettige goedere na die land stopsit. Lance Poonawassy van ActionSA sê die party is daartoe verbind om doeltreffende immigrasiebeheer te verseker, wat buitelandse burgers ook sal beskerm. Poonawassy sê Sondag is 72 vermeende onwettige mynwerkers in die Samaria-informele nedersetting in Kimberley in hegtenis geneem tydens Operasie Vala Umgodi:
# Suid-Afrika het op ‘n enkeldosis Menslike Papilloomvirus-inentingsbehandeling besluit en die regering se gesubsidieerde inentings na privaatskole uitgebrei. Hierdie wysiging word ondersteun deur bewyse dat dit gelykwaardige beskerming aan multidosisse-behandelings bied en is daarop gemik om dekking teen 2030 tot 90-persent op te stoot. Die MPV-inentingsveldtog met Cervarix van GlaxoSmithKline, is nou ook by onafhanklike skole beskikbaar. Hoewel die enkeldosisbehandeling doeltreffend is by meisies wat MIV-negatief is, moet verdere toetse bepaal hoe doeltreffend dit is by meisies wat MIV-positief is.
# Rugby: Die All Black-slot, Patrick Tuipulotu, is weer perdfris na ‘n kniebesering en sal die Auckland Blues Saterdag in die uitverkoopte Superrugby-eindstryd teen die Waikato Chiefs aanvoer. ‘n Skare van nagenoeg 45-duisend word in Eden-park verwag wanneer die twee Nieu-Seelandse spanne sake uitspook in die kampioenskapseindstryd. Veteraan voorspeler, Tuipulotu, het in 43 toetse vir Nieu-Seeland gespeel en maak ‘n terugkeer tot die beginspan hoewel hy slegs twee weke gelede in die oorwinning in die kwarteindstryd teen die Fidjiaanse Drua, van die veld af gehinkepink het met ‘n geskeurde mediale ligament.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-764-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-337-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….