Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suider-Afrikaanse geloofsgemeenskappe se omgewingsinstituut sê hy hoop die regering van nasionale eenheid sal beter energie- en klimaatbestuur in die land bring. Die instituut se woordvoerder, Francesca de Gasparis, sê hulle wil toeganklike en bekostigbare elektrisiteit hê waar die ligte elke dag brand en wat aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar is:
# Suid-Afrika beoog om teen 2030 ‘n plan op te stel om die bykans 50-jaar-lange verbod op handel in renosterhoring op te hef. Die voorstel, wat deel vorm van die eerste bioverskeidenheids-bestuursplan vir renosters, is omstrede weens ongebreidelde stropery. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sal na verwagting die plan aan die kabinet voorlê, met die oog op volhoubare renosterbevolkingsbestuur. Dit volg omdat 79-persent van die wêreld se renosters in Suid-Afrika is, en kritici vrees die wettige handel kan stropery vererger.
# En, twee Beluga-walvisse het ‘n nuwe tuiste in Spanje gevind na hulle uit ‘n akwarium in die oorloggeteisterde Oekraïne gered is. Bomme het ‘n paar honderd meter van die NEMO-akwarium in Kharkief ontplof. ‘n Internasionale span van spesialiste sê dit was een van die mees ingewikkelde see-soogdierreddings-operasies ooit, wat ‘n rit van 12-uur deur Oekraïne ingesluit het. Die beluga’s, die 15-jarige Plombir en die 14-jarige Miranda, het dié week veilig in Valencia aangekom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….