Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Die DA skors Renaldo Gouws na ‘n skokkende video
# Cosatu verwag die nuwe kabinet moet werk aan inklusiewe ekonomiese groei
# En, Olimpiese Spele: Nog Suid-Afrikaaanse atlete aangekondig vir Parys
# Die DA het sy lid, Renaldo Gouws, met onmiddellike ingang uit alle werksaamhede van die party geskors terwyl hy weens dissiplinêre aanklagte voor die federale regskommissie van die party verskyn. Gouws is ‘n voormalige wyksraadslid in Nelson Madelabaai. Die voorsitter van die federale raad van die DA, Helen Zille, sê hulle het vasgestel ‘n video waarin Gouws verfoeilike en rassistiese taal gebruik, is in der waarheid eg en nie ‘n vervalsing soos aanvanklik vermoed is nie:
# Cosatu sê sodra die nuwe kabinet aangekondig is, moet dit moue oprol en begin werk om ‘n inklusiewe ekonomie te laat groei, behoorlike werk te skep en armoede en ongelykheid pak. ‘n Woordvoerder van Cosatu, Matthew Parks, sê ondanks die insluiting van die regse DA in die regering van nasionale eenheid, verwag die federasie die regering moet die werkersklas voorop stel, soos verwoord in die ANC-manifes:
# Ecuador is gister deur ‘n landwye kragonderbreking getref wat al 17-miljoen inwoners sonder elektrisiteit, en uiteindelik ook sonder lopende water, gelaat het. Die onderbreking het ure lank geduur en hospitale, woonplekke en ʼn groot ondergrondse spoorstelsel geraak. Die minister van Openbare Infrastruktuur, Roberto Luque, blameer gebrekkige belegging in onderhoud en die beskerming van transmissie-infrastruktuur, en nuwe elektriese transmissie. Luque sê die kragonderbreking kon vermy word as Ecuador ʼn beleggingsplan ingestel het om die infrastruktuur te beskerm na ʼn soortgelyke voorval in 2004.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het Span Suid-Afrika se verteenwoordiging by die Spele in Parys ʼn goeie hupstoot gegee toe nog name en sportkodes aangekondig is. Sascoc sê daar is nou 114 atlete in 15 kodes in die span. Bekende name wat by Span Suid-Afrika aansluit, is Johanita Scholtz, wat al twee goue medaljes in pluimbal by die Afrika Spele behaal het, die driekampatleet Henri Schoeman, en die roeier John Smith. Die Spele begin op 26 Julie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-603-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-21-sent per vat.
# Ten slotte: Twee Beluga-walvisse het ‘n nuwe tuiste in Spanje gevind na hulle uit ‘n akwarium in die oorloggeteisterde Oekraïne gered is. Bomme het ‘n paar honderd meter van die NEMO-akwarium in Kharkief ontplof. ‘n Internasionale span van spesialiste sê dit was een van die mees ingewikkelde see-soogdierreddings-operasies ooit, wat ‘n rit van 12-uur deur Oekraïne ingesluit het. Die beluga’s, die 15-jarige Plombir en die 14-jarige Miranda, het dié week veilig in Valencia aangekom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….