Nuus 06:00
BULLETIN 20 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa onderneem om die toegang tot noodsaaklike dienste te verbeter
# Faksies in die PAC bots oor die party se deelname aan die regering van nasionale eenheid
# En Suid-Afrika beplan om die verbod op die handel in renosterhoring teen 2030 op te hef
# President Cyril Ramaphosa sê die belangrikste aspirasies van mense is genoeg kos, water, bekostigbare elektrisiteit en ordentlike behuising. Hy het in sy inhuldigingsrede die regering se verbintenis tot verbeterde lewenstandaarde en billike toegang tot noodsaaklike dienste uiteengesit. Volgens Ramaphosa is sosio-ekonomiese ontwikkeling en die verskaffing van basiese regte sleutel-doelwitte van sy tweede termyn, wat dui op ‘n diepgaande onderneming om kritieke kwessies aan te spreek wat Suid-Afrikaners raak:
# Die revolusionêre kern van die PAC verwerp die party se deelname aan die regering van nasionale eenheid en noem dit teen-revolusionêr. Hulle voer aan die nuwe regering bevorder ‘n regse beleid wat die wit minderheid bevoordeel en maatskaplike agteruitgang bevorder. Dit volg nadat die sekretaris-generaal, Apa Pooe, beweer het die PAC is betrokke by die regering van nasionale eenheid. Hulle beskuldig ook die PAC-leierskap van ideologiese naïwiteit en politieke opportunisme. Die kern eis die onmiddellike onttrekking en doen ‘n beroep op alle lede om heeltemal afstand te doen van die koalisie.
# Die Departement van Gesondheid in Gauteng vra waaksaamheid teen bedrieërs wat die lewe van pasiënte en personeel in gevaar stel. Dit volg nadat ‘n vrou aangekeer is wat haarself Dinsdag as ‘n dokter voorgedoen het by die Tembisa Tersiêre Hospitaal. Die verdagte is aan die polisie oorhandig. Die woordvoerder van die departement, Motalatale Modiba, sê ‘n ondersoek is aan die gang om te bepaal hoe die bedrieër toegang tot die hospitaal verkry het:
# Suid-Afrika beoog om teen 2030 ‘n plan op te stel om die bykans 50-jaar-lange verbod op handel in renosterhoring op te hef. Die voorstel, wat deel vorm van die eerste bioverskeidenheids-bestuursplan vir renosters, is omstrede weens ongebreidelde stropery. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sal na verwagting die plan aan die kabinet voorlê, met die oog op volhoubare renosterbevolkingsbestuur. Dit volg omdat 79-persent van die wêreld se renosters in Suid-Afrika is, en kritici vrees die wettige handel kan stropery vererger.
# Die Britse polisie het twee mense aangekeer nadat omgewingsaktiviste ‘n oranje stof op Stonehenge, die alombekende prehistoriese UNESCO Wêreld Erfenisgebied in Suidwes-Engeland gespuit het. Die Just Stop Oil-protesgroep sê twee van sy aktiviste het Stonehenge met ‘n oranje poeier versier om te eis dat die volgende Britse regering hom daartoe verbind om fossielbrandstowwe teen 2030 uit te faseer. Die groep het op sosiale media aangevoer oranje mieliemeel is gebruik en beweer dit sal met reën afwas.
# Krieket: Suid-Afrika het Woensdag ‘n totaal van 194 vir 4 aangeteken om die mede-gasheer, Amerika, in hul T20 Wêreldbeker Super-Agt-wedstryd te klop. Die speler van die wedstryd, Quinton de Kock het egter erken dié toekenning vir ‘n beurt van 74 van 40 balle was ‘n aangename meevaller. In reaksie hierop het Amerika ‘n reuse-uitdaging aangepak, met die Suid-Afrikaans-gebore Andries Gous wat die Proteas onder druk geplaas het met ‘n 50-tal. Die Proteas speel Vrydag teen Engeland met die Wes-Indiese Eilande wat Sondag aan die beurt kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-22-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….