Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa is vir die tweede termyn as president van Suid-Afrika ingehuldig
# Ramaphosa bevestig ook sy verbintenis tot ‘n nie-rassige en nie-seksistiese Suid-Afrika
# En, rugby: Die televisiewedstrydbeampte kry groter verantwoordelikheid vir die Bok-toets
# President Cyril Ramaphosa is vir sy tweede termyn ingehuldig en lei die sewende administrasie sedert die aanvang van die demokrasie. Hoofregter Raymond Zondo het die eed by die Uniegebou in Pretoria behartig. Die inhuldiging het kulturele vertonings en militêre seremonies bevat, insluitend ‘n 21-geweer-saluut en ‘n verbyvlug deur die Lugmag. Ramaphosa het hom toegewy aan die republiek:
Ramaphosa het verder onderneem om Suid-Afrika nie-rassig, nie-seksistiese en welvarend te maak. Hy het alle politieke leiers aangemoedig om saam te werk om inklusiwiteit en voorspoed te bevorder, en om gelyke geleenthede vir almal te verseker. Ramaphosa het die land se veerkragtigheid geprys en die verkiesingsuitslae aanvaar as ‘n weerspieëling van mense se behoefte aan vrede en vooruitgang:
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het intussen bevestig gesprekke met die ANC duur voort oor insluiting by die regering van nasionale eenheid. Hy het tydens die inhuldiging van president Cyril Ramaphosa by die Uniegebou in Pretoria aan die media gesê die party is gereed om die nuwe regering verantwoordbaar te hou. Hulle is ook in afwagting op die bekendmaking van die nuwe kabinet:
# Die Suid-Afrikaanse Sionistiese Federasie doen ‘n beroep op universiteite om akademiese vryheid te handhaaf en Israeliese boikotte teen te staan. Dit volg op die senaat van die Universiteit van Suid-Afrika se besluit om ‘n boikot van Israeliese instellings te onderskryf. Die federasie se woordvoerder, Rolene Marks, voer aan dit ondermyn akademiese vryheid en beperk studente se toegang tot Israeliese vooruitgang in tegnologie en medisyne. Marks waarsku die boikot hou reputasie- en finansiële risiko’s in, kan befondsing verminder, antisemitisme dryf en vervreem voornemende Joodse studente.
# Rugby: Wêreld Rugby het bekendgemaak die magte van die televisiewedstrydbeampte vir Saterdag se toets tussen die Springbokke en Wallis, asook vir die komende Onder 20-kampioenskap in Kaapstad, is aansienlik uitgebrei. Die beheerliggaam het bevestig daar is ‘n aanvanklike geslote proeflopie met wysigings van die televisiewedstrydbeampte by kompetisies van Wêreld Rugby in Julie. Daarbenewens is Saterdag se twee wedstryde op Twickenham – die Springbokke teen Wallis en Fidji teen die Barbarians – ook deel van die proeflopie na versoeke deur die onderskeie unies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-399-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….