Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die regering van nasionale eenheid het nie ‘n keuse nie en moet saamwerk
# Die ANC se Veterane-liga sal die regering van nasionale eenheid aanspreeklik hou
# En, krieket: Die Proteas se Aiden Markram waarsku Amerika is nie meer ‘n klein spannetjie nie
# DA-leier, John Steenhuisen, het beklemtoon die regering van nasionale eenheid moet saamwerk tot voordeel van Suid-Afrikaners. Steenhuisen het by president Cyril Ramaphosa se inhuldiging gepraat en sê die vorming van hierdie regering bevestig demokrasie is besig om te funksioneer. Hy sê kiesers het partye ‘n duidelike opdrag gegee om saam te werk om ‘n bestendige regering te vorm en die ekonomie te verbeter:
Die ANC se Veterane-liga het intussen die ooreenkoms oor die regering van nasionale eenheid verwelkom. Dit sluit die ANC, DA, IVP, Patriotic Alliance en die GOOD-party in. Die liga het dit ook duidelik gemaak hy sal die koalisie aanspreeklik hou. Volgens die liga sal die ooreenkoms die skip in die regte rigting stuur, want dit benadruk die prioriteite vir ekonomiese groei, werkskepping en dienslewering. Die Veterane-liga beklemtoon die behoefte aan ‘n verenigde program om vooruitgang in die land te bevorder.
In nog ‘n verwikkeling verwelkom die Vereniging van Staatsamptenare versigtig optimisties Limpopo se eerste vroulike premier, Phophi Ramathuba. Al het sy ‘n proaktiewe benadering tot dienslewering, bestaan daar kommer oor haar hantering van werkersregte tydens haar termyn as die LUR vir Gesondheid. Kwessies soos personeel wat nie gemotiveerd is nie en wanfunksionele gesondheidsfasiliteite duur voort. John Teffo van die vereniging moedig Ramathuba aan om die uitwissing van korrupsie en die bevordering van landelike ekonomieë voorop te stel:
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Aiden Markram, waarsku sy span om nie Amerika in aanloop tot hulle T20-wêreldbeker-kragmeting te onderskat nie, en sê dié land is nie meer ‘n klein spannetjie nie. Die Amerikaanse gashere het die sportgemeenskap verras toe hulle die voormalige kampioene en magtige Asiatiese span van Pakistan in die groepwedstryde se eerste ronde geklop het. Suid-Afrika het hulle aanvangsveldtog met vier seges uit vier wedstryde afgeskop, maar was net gelukkig om ʼn 100-persent rekord te behou. Die spanne takel mekaar vanmiddag halfvyf.
# Die jaarlikse verbruikersprysinflasie was 5,2-persent in Mei, wat onveranderd is vanaf April. Hoër tariewe is aangeteken vir vervoer, alkoholiese drankies en tabak sowel as ontspanning en kultuur. Nadat daar ‘n afname van vyf agtereenvolgende maande was, het inflasie vir voedsel- en nie-alkoholiese drankies in Mei bestendig gebly op 4,7-persent. Prysstygings vir brood en graan is nou die laagste sedert Februarie 2022. Inflasie vir kitskoffie, gemaalde koffie of koffiebone en swart tee, is hoër op 10-persent. Die gemiddelde prys vir 250-gram kitskoffie was in Mei 2024 82-persent hoër as in Januarie 2017.
En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-157-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-330-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….