Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Wêreld Rugby het bekendgemaak die magte van die televisiewedstrydbeampte vir Saterdag se toets tussen die Springbokke en Wallis, asook vir die komende Onder 20-kampioenskap in Kaapstad, is aansienlik uitgebrei. Die beheerliggaam het bevestig daar is ‘n aanvanklike geslote proeflopie met wysigings van die televisiewedstrydbeampte by kompetisies van Wêreld Rugby in Julie. Daarbenewens is Saterdag se twee wedstryde op Twickenham – die Springbokke teen Wallis en Fidji teen die Barbarians – ook deel van die proeflopie na versoeke deur die onderskeie unies.
Nog nuus oor die sport is dat die Nieu-Seelandse speler met die meeste wedstryde op sy kerfstok, Sam Whitelock, die kaptein is van die Barbarians in sy laaste wedstryd wanneer hulle Saterdag teen Fidji in Londen uitdraf. Dié wedstryd word gespeel na die Springbokke teen Wallis op dieselfde veld kragte gemeet het. Die 35-jarige slot se laaste wedstryd van die 153 vir die All Blacks was in die eindstryd van die Rugby-Wêreldbeker wat sy span verloor het. Ander spelers in Whitelock se span, is die Engelse sterre Jonny May, Ben Youngs, Kyle Sinckler asook die Franse senter Gael Fickou.
# Vervolgens, krieket: Suid-Afrika se kaptein, Aiden Markram, waarsku sy span om nie Amerika in aanloop tot hulle T20-wêreldbeker-kragmeting te onderskat nie, en sê dié land is nie meer ‘n klein spannetjie nie. Die Amerikaanse gashere het die sportgemeenskap verras toe hulle die voormalige kampioene en magtige Asiatiese span van Pakistan in die groepwedstryde se eerste ronde geklop het. Suid-Afrika het hulle aanvangsveldtog met vier seges uit vier wedstryde afgeskop, maar was net gelukkig om ʼn 100-persent rekord te behou. Die spanne takel mekaar vanmiddag halfvyf.
# Nou ‘n brokkie tennis: Carlos Alcaraz het Dinsdag by Queens-klub drie stelpunte afgeweer en Francisco Cerundolo met 6-1, 7-5 geklop in sy eerste poging om sy titel te verdedig. Die Spanjaard wat vroeër die maand sy derde Grand Slam by die Franse Ope gewen het, het sy eerste grasbaanwedstryd van 2024 effens onseker begin. Hy het egter later sy voete gevind en met Cerundolo afgereken. Die wêreld se nommer twee het verlede jaar se sege by Queen’s met ʼn Wimbledon-oorwinning opgevolg. Hy kom volgende teen die Brit Jack Draper of Argentyn Mariano Navone te staan.
# En, ons sluit af met gholf: Rory McIlroy en Shane Lowry sal Ierland by die Olimpiese Spele in Parys verteenwoordig. Altesaam 60 spelers uit 32 lande gaan deelneem met slegs Amerika wat meer as twee kwalifiseerders het. Die wêreld nommer een, Scottie Scheffler, Xander Schauffele, Wyndham Clark en Colin Morikawa sal Amerika verteenwoordig. Die voormalige Amerikaanse Ope-kampioen, Matt Fitzpatrick, en Tommy Fleetwood het vir Groot-Brittanje gekwalifiseer. Elke nasionale Olimpiese komitee moet teen 27 Junie hulle deelnemers amptelik by die Internasionale Gholffederasie bevestig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….