Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand breek deur die R18-vlak teen die dollar op inhuldigingsdag
# TLU SA is bekommerd oor die aanstelling van Senzo Mchunu as die waarnemende minister van Landbou
# En, krieket: Proteas se Aiden Markram waarsku Amerika is nie meer ‘n klein spannetjie nie
# Die Suid-Afrikaanse rand het die deur die 18-rand-vlak teen die dollar gebreek. Dit val saam met president Cyril Ramaphosa se inhuldiging vandag. Ontleders sê hierdie finansiële ontwikkeling dui op ‘n noemenswaardige versterking van die geldeenheid en weerspieël ‘n positiewe marksentiment. Dit is die rand se sterkste vertoning in die afgelope maande en word toegeskryf aan ‘n oplewing in beleggers-optimisme en verwagte ekonomiese hervorming. Kenners beklemtoon die versterking van die rand is ‘n teken van potensiële bestendigheid en groei in die ekonomie.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy neem kennis van die aanstelling van die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, as waarnemende minister van Landbou. Die uitvoerende hoof van die organisasie, Bennie van Zyl, sê die skuif laat die vraag ontstaan of sy aanstelling ‘n aanduiding is van ‘n permanente posisie, en of dit werklik nodig was om dié besluit te neem enkele dae voor die aankondiging van ‘n nuwe kabinet:
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het bekendgemaak 55-miljard-rand is sedert 2006 aan infrastruktuur en bedrywighede in 13 stede bestee. Dit sluit in 131 bus-gebaseerde openbare vervoerstelsels, twee-duisend-628 bushaltes en elf depots. Daarbenewens is hoofpaaie en nie-gemotoriseerde vervoerfasiliteite opgerig. Volgens Chikunga is die belegging daarop gemik om openbare vervoer en padinfrastruktuur asook stedelike vervoerstelsels te verbeter:
# ‘n Rekordgetal polities gemotiveerde misdade het verlede jaar in Duitsland plaasgevind, deels aangevuur deur wêreldwye gebeure, insluitend die konflikte in Oekraïne en Gaza. Owerhede het verlede jaar 60-duisend-en-28 polities gemotiveerde oortredings geregistreer, teenoor 58-duisend-916 die vorige jaar. Die verslag, van Duitsland se binnelandse intelligensie-agentskap, sê daar was ‘n toename van 22,4-persent in misdade wat regse ekstremiste gepleeg het en misdade deur linkse ekstremiste het met 10,4-persent toegeneem. Daar was ook ‘n oplewing in anti-Semitiese misdade, wat vanaf net 33 die vorige jaar tot 492 gespring het.
# Krieket: Suid-Afrika se kaptein, Aiden Markram, waarsku sy span om nie Amerika in aanloop tot hulle T20-wêreldbeker-kragmeting te onderskat nie, en sê dié land is nie meer ‘n klein spannetjie nie. Die Amerikaanse gashere het die sportgemeenskap verras toe hulle die voormalige kampioene en magtige Asiatiese span van Pakistan in die groepwedstryde se eerste ronde geklop het. Suid-Afrika het hulle aanvangsveldtog met vier seges uit vier wedstryde afgeskop, maar was net gelukkig om ʼn 100-persent rekord te behou. Die spanne takel mekaar vanmiddag halfvyf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-212-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-334-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….