Nuus 08:00
BULLETIN 19 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê hulle sal nie die inhuldiging van ‘n “DA-geborgde” Ramaphosa bywoon nie
# Die PAC besluit om deel te neem aan die regering van nasionale eenheid
# En Justin Timberlake word van dronkbestuur aangekla
# Die MK-party sê hy gaan nie vandag deel wees van Cyril Ramaphosa se inhuldigingsklug as “DA-geborgde” president nie. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê hulle gaan nie op vryheidsvegters se grafte spoeg deur die simboliese huwelikseremonie tussen die “house negro” Ramaphosa en slawemeester Hellen Zille by te woon nie. Ndhlela sê hulle kan nie iets vier wanneer die ANC nog ‘n ooreenkoms met die Vryheidsfront Plus gesluit het om volgens hom die rassistiese enklawe Orania te erken en te beskerm nie.
Die PAC sê intussen hy het besluit om deel te wees van die regering van nasionale eenheid. Die PAC se sekretaris-generaal, Apa Pooe, sê hierdie strategiese besluit is die gevolg van die party se verbintenis om beleidsposisies van binne die regering te verander. Pooe sê die besluit is gewortel in die geloof dat die PAC die land kan wegstuur van regse neigings en die winste beskerm wat tot dusver behaal is:
# Die uittredende minister van Polisie, Bheki Cele, het die mense van Suid-Afrika bedank wat hom met die ministerie van Polisie vertrou het. Cele het tydens die polisie se nasionale medalje-parade by die SAPD-akademie in Tshwane-Wes gepraat. Hy het ook die ANC bedank wat hom in die amp aangestel het en het raad gehad vir die persoon wat binnekort in sy plek kom:
# Die pop-ster Justin Timberlake is aangekla van dronkbestuur. Die polisie in Long Island het die 43-jarige sanger afgetrek en gearresteer nadat hy ʼn restaurant verlaat het waar hy en vriende volgens berigte geëet het. Volgens die Suffolk-distriksprokureur se kantoor is hy later Dinsdag aangekla en vrygelaat. Hy moet weer op 26 Julie in die hof verskyn. Timberlake het bekendheid verwerf as deel van die sanggroep, NSYNC. Hy het in 2002 sy loopbaan as solo-kunstenaar begin. Hy het tien Grammy- en vier Primetime Emmy-toekennings ontvang.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-479-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-33-sent per vat.
# En ter afsluiting: Klimaatwetenskaplikes en atlete het ‘n nuwe verslag ondersteun wat teen die gevare van uiters hoë temperature waarsku wat by die Olimpiese Spele in Parys verwag word. Deelnemers kan luidens die verslag weens die hitte ineenstort en selfs sterf. Meer as vyfduisend mense is verlede jaar weens die versengende hitte in Frankryk dood toe rekord hoé temperature van meer as 40 grade Celsius aangeteken is. Organiseerders van die Spele is egter meer bekommerd oor die baie reën wat in die tyd oor Parys verwag word en sterk strome in die Seine-rivier en swak watergehalte kan veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….