Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Die UDM se adjunkpresident Nqabayomzi Kwankwa is ná ‘n ontvoering vrygelaat en is ongedeerd
# JP Morgan gradeer SA bates op oor optimisme ná die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid
# En, rugby: Sanele Nohamba is aangewys as die VRK se Speler van die Seisoen
# Die UDM het bevestig sy adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, is op pad na die Kaapstadse-lughawe vir die presidensiële inhuldiging ontvoer. ‘n Losprys van tien-duisend-rand is geëis en betaal, wat gelei het tot sy veilige vrylating. Sy besittings en voertuig is gesteel. Kwankwa is in kontak met die polisie. Die UDM het verligting uitgespreek oor sy veilige terugkeer en wens hom sterkte toe met sy herstel:
# Die wêreld se grootste bank volgens markwaarde, JPMorgan, het Suid-Afrikaanse bates opgradeer ná optimisme oor die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid. Die bank se opgradering van ‘ondergewig na oorgewig’ in sy Sentraal-Europese, die Midde-Ooste en Afrika-batetoewysing, weerspieël vertroue in die koalisie. Hoewel sentiment positief is, is risiko’s steeds daar, aangesien kabinetsposisies nog gevul moet word, en die doeltreffendheid van die nuwe-struktuur nog nie getoets is nie. Die bank sê ideologiese verskille kan uitdagings vir die koalisie se langtermynbestendigheid beteken.
# Die derde grootste selfoonmaatskappy in Suid-Afrika, Telkom, het ‘n sterker vertoning by sy selfoon en optiese veselsektore aangemeld, wat sy bedryfswins en marges vir 2024 ‘n hupstoot gegee het. Groepsinkomste het met 1,6-persent tot 43,2-miljard-rand toegeneem, en kernwins het met meer as vyf-persent tot tien-miljard-rand gestyg. Die bestuur is optimisties om teen 2025 dividende uit te keer, deur sy digitale infrastruktuur en inligting- en kommunikasietegnologie-vermoë vir volhoubare groei in te span.
# Rugby: Die veelsydige agterspeler van die Leeus, Sanele Nohamba, is beloon vir sy goeie spelpeil die afgelope agt maande en is aangewys as die Speler van die Seisoen in die Verenigde Rugbykampioenskap, na uitblinker-vertonings op skrumskakel en losskakel vir die span van Johannesburg. Die 25-jarige Nohamba volg in die voetspore van die tweetal van die Stormers, Evan Roos en Manie Libbok, wat die toekenning na die eerste twee seisoene van die VRK ontvang het. Die ander benoemdes vir 2024 was die duo van die Bulle, Cameron Hanekom en Kurt-Lee Arendse.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-512-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-324-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-83-sent per vat.
# Ten slotte: Die Stad Kaapstad sê aanneming van diere bly ‘n groot probleem vir dierebeskermingsverenigings. Hy sê die probleem word vererger deur die toename in rondloperdiere en troeteldiere wat aan organisasies oorhandig word. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die druk op die dierewelsyn-sektor is enorm, en ondanks al die uitdagings doen hulle uitstekende werk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….