Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Junie 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met gemengde gevegskuns: Die tweemalige middelgewigkampioen Israel Adesanya het ná lang bespiegelings bevestig hy pak Suid-Afrika se Dricus du Plessis op 17 Augustus in Perth, Australië, in ‘n titelgeveg. Hoewel die promotor, Ultimate Fighting Championship, dit nog nie amptelik aangekondig het nie, het Du Plessis dit reeds op Instagram geplaas. Die 30-jarige Du Plessis het in Januarie die Amerikaner Sean Strickland verslaan en die eerste Suid-Afrikaner geword wat ‘n UFC-titel kon wen. Du Plessis het sy laaste nege professionele gevegte gewen, waarvan sewe onder die vaandel van die UFC.
# Tennis is volgende aan die beurt: Die Franse Ope-kampioen, Carlos Alcaraz, het sy visier op nog grasbaan-suksesse ná sy eerste titel op klei by Roland Garros. Die 21-jarige het met sy oorwinning van vyf stelle oor Alexander Zverev Sondag in Parys, die jongste manspeler geword om Major-titels op al drie oppervlaktes te wen. Hy is die verdedigende kampioen by Wimbledon en het sy oog op verlede jaar se dubbelsege by Queen’s Club en die grasbaan Grand Slam. Alcaraz begin vandag sy Queen’s Club-veldtog teen Argentinië se Francisco Cerundolo.
# Vervolgens, krieket: Die wêreldspelersraad, Fica, het sy naam verander na Wêreld-krieketspelersvereniging. Die vereniging verteenwoordig nou die meerderheid van die wêreld se beste spelers uit 14 lande. Op ‘n vergadering in New York, het die vereniging die eerste Tim May-medaljes vir uitstaande diens aan die vereniging toegeken aan Tim May en Richard Bevan. Beide het hard gewerk om seker te maak spelers het gesamentlik ‘n sê in sake wat hulle op ‘n globale vlak raak.
# Nou iets oor sokker: Johannesburg bied vroeg volgende maand die trekking aan vir die 2025 Afrika-nasiesbeker. Die vasteland se beheerliggaam CAF sê dit sal op 4 Julie gebeur in SuperSport se ateljee in Randburg. Die kwalifiserende wedstryde begin in September om die 24 lande te bepaal wat in Julie en Augustus volgende jaar gaan deelneem aan die toernooi in Marokko. Bafana Bafana het die bronsmedalje gewen in die vorige toernooi met hulle beste prestasie in 24 jaar. Die toernooi is toe gewen deur die gashere die Ivoorkus.
En, ons sluit af met rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd tussen die Bulle en Glasgow Warriors op Loftus skop Saterdagmiddag sesuur af. Dit word voorafgegaan deur ‘n regstreekse TV-uitsending van die Springbokke se wedstryd teen Wallis op Twickenham. Die VRK-eindstryd is tussen spanne wat nie die gunstelinge in hul onderskeie halfeindstryde was nie. Die Bulle het met Leinster afgereken terwyl die Warriors die verdedigende kampioene, Munster, afgeransel het. Dis die Bulle se tweede VRK-eindstryd in drie seisoene en die eerste tuis. Dit ook die manne van Skotland se eerste sedert 2019.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….