Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die waarde van Suid-Afrikaanse maatskappye waarvan die verdienste aan ekonomiese omstandighede gekoppel is, soos banke, versekeraars en kleinhandelaars, het met miljarde rand gestyg. Dit volg nadat dit bekend geword het dat die ANC, DA, IVP en kleiner partye ‘n regering van nasionale eenheid vorm en saamwerk in sleutelprovinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig kenners is van mening president Cyril Ramaphosa sal nou vinnig sy nuwe kabinet moet aankondig. Ramaphosa word môre ingehuldig en die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê dit sal sou gou as moontlik daarna gebeur.
En tweedens skryf die koerant 30-duisend kaartjies is reeds verkoop vir Saterdag se kragmeting tussen die Bulle en die Glasgow Warriors op Loftus in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die MK-party is vasbeslote om vermeende verkiesingsbedrog verder te neem in die verkiesingshof.
Dan berig die koerant die polisievakbond SAPU sê aanvalle op die polisie moet as hoogverraad vervolg word.
En laastens word berig die uitvoerende hoof van Eskom, Dan Marokane sê beurtkrag is nie verby nie.
# En Sowetan:
Berig die gesondheidsorgstelsel in Mpumalanga is in chaos. Die stelsel word deur boewe gemanipuleer en die afgelope ses maande is 26 voertuie waaronder twee mobiele klinieke gesteel.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor Ramaphosa se kabinetsamestelling.
En tweedens is daar nuus oor ‘n gesin van Generaal de Wet in Bloemfontein wat alles binne ‘n uur verloor het toe hulle huis deur ‘n brand in puin gelê is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die bespiegeling oor wanneer die Kabinet bekend gemaak word.
En berig tweedens, ‘n motorfietryer van Belville, Pieter Keyter wat in die Karoo vemis geraak het is deur ‘n boer en ‘n plaaswerker gevind en gehelp. Keyter wat met sy fiets geval het, het die nag in die Karoo deurgebring.
# En Cape Times:
Skryf daar word bespiegel oor die samewerking tussen die EFF, ANC en Patriotic Alliance in Knysna.
En berig die eienaar van ‘n pitbull word aanspreeklik gehou vir die mediese koste van ‘n slagoffer wat deur die hond gebyt is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die burgermeester van Nelson Mandelabaai, Gary van Niekerk se pos mag in gedrang wees in die lig van die samewerkingsooreenkoms wat nasionaal gesluit is vir ‘n regering van nasionale eenheid.
En tweedens skryf die koerant die parke en sportgronde in Gqeberha is op die vooraand van die skoolvakansie in ‘n haglike toestand.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die MK-party wil homself na die Wêreldhof wend weens vermeende verkiesingsbedrog en nege-miljoen stemme wat na bewering vermis word.
En The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die polisie in KwaZulu-Natal is steeds op hoë gereedsheidsgrondslag om enige vorm van geweld te hanteer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig sedert die begin van die jaar tot op datum is 300 kinders in Omaheke as ondervoed aangemeld. Altesaam 263 is in die hospitaal opgeneem en 26 is dood.
En tweedens skryf die koerant die parlementêre staande komitee oor Hulpbronne sê die regering se groenskemas is nie optimaal opgestel om kommersieel te funksioneer nie.