Nuus 16:00
BULLETIN 14 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier bevestig Ramaphosa as die regering van nasionale eenheid se presidensiële kandidaat
# Panyaza Lesufi is herkies as premier van Gauteng
# En, Olimpiese Spele: ‘n Skermer van Wits gaan geskiedenis maak op die Spele in Parys
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het bevestig die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, sal die presidensiële kandidaat wees vir die regering van nasionale eenheid. Hy het op ‘n nuuskonferensie gesê die land se uitdagings bly ernstig, en hoë werkloosheid, misdaad, infrastruktuur-agteruitgang en endemiese korrupsie uitgelig:
Vroeër het die voormalige adjunkpresident, Phumzile Mlambo-Ngcuka, alle lede van die Parlement aangemoedig om die Grondwet te respekteer, en beklemtoon dit mag nie in gevaar gestel word nie. Mlambo-Ngcuka beklemtoon die nuwe regering moet die oppergesag van die reg voorop stel, en beveel aan die ANC moet saamwerk met partye wat dit wil doen. Sy waarsku ook teen moontlike uitdagings in die regering van nasionale eenheid, en vra alle partye moet die belange van Suid-Afrikaners voorop stel.
En, die ANC se Gautengse voorsitter, Panyaza Lesufi, is onbestrede herkies as premier van die provinsie. Hy het in sy toespraak aan die wetgewer klem gelê op samewerking tussen die partye om die provinsie te verbeter. Lesufi, wat sedert Oktober 2022 premier is, het toesig gehou oor die skrapping van die omstrede e-tolstelsel, en veldtogte geloods soos Nasi Ispani vir jeug-werkskepping, en misdaadvoorkomingsbeamptes. Hy beklemtoon Gauteng se status as ekonomiese hartland moet verhoog word:
# MTN Business het ‘n drie-jaar kontrak gekry om slim-elektrisiteit- en -watertegnologie in 257 munisipaliteite aan te bring, gemik op die verbetering van doeltreffendheid en volhoubaarheid. Die uitvoerende hoof, Charles Molapisi, sê die aanvaardig van digitale tegnologie hou voordele in vir huishoudings, ondernemings en munisipaliteite, in ooreenstemming met wêreldneigings. Die kontrak bevestig MTN Business se rol in die digitalisering van die openbare sektor, wat deursigtige nutsmaatskappybestuur bevorder en die grondwetlike reg op water en waardigheid verseker.
# Olimpiese Spele: ‘n Ingenieurstudent aan die Wits-universiteit, Harry Saner, het vir die Spele in Parys gekwalifiseer. Hy is die eerste Suid-Afrikaanse skermer in byna twee dekades wat op die Spele in dié sport sal meeding. Hy het in 2010 as negejarige seun begin om skermkuns te beoefen en is slegs die tweede Suid-Afrikaner sedert 2008 wat vir die Spele kwalifiseer. Juliana Barrett het in 2016 vir die Spele in Rio gekwalifiseer, maar is weens die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee se keuse-beleid nie die geleentheid gegun om deel te neem nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-216-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….